Eenkeer Gered, Altyd Gered - Is dit waar?
Daar is 'n wesenlike gevaar dat sommiges, wat hul geloof in die Here Jesus belei, sekere dodelike aannames aankleef wat hulle 'n toestand van valse vrede laat beleef. Rustig onbewus van die gevaar waarin hul geestelik verkeer ondersoek hulle nie die dieptes van die Woord nie en kom nie tot ware bekering nie. Hulle geniet die reis deur die lewe maar is nie bewus van die sekere gevaar waarin hul verkeer tot dit te laat is nie.
Interressante feit
Het jy geweet dat dit moontlik is om van die honger te sterf terwyl jy steeds drie maaltye per dag eet? As die kos wat jy eet nie-voedend is of negatiewe kalorieë het - wat beteken dat dit meer kalorieë verg om dit te verteer as wat dit bevat - kan jy 'n kunsmatige gevoel van volheid en welstand ervaar, maar steeds aan dodelike wanvoeding ly.
Netso lei sommige gelowiges aan erge geestelike wanvoeding deur verkeerde lerings wat nie met die Bybel strook nie.
Dit gaan mens se verstand te bowe dat daar soveel dodelike sienings is oor wat die ware evangelie behels. 2 Timoteus 4:3, 4 sê reguit: “daar sal 'n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle 'n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.”
Mens sidder om te dink dat baie opregte Christene hierdie nie-voedende en giftige idees oor hoe om gered te word heelhartig verorber. Ek sidder want om in hierdie vervalste leerstellings te glo het potensieel baie ernstige en ewige gevolge. Dit is dodelike wanvoeding.
Een so 'n siening word genoem "eenkeer gered, altyd gered", ook bekend as die leerstelling van "ewige veiligheid" of die "volharding van die heiliges." Dit is 'n oortuiging wat dodelike geestelike agteruitgang tot gevolg kan hê.
Die wortels van hierdie leer gaan terug na 'n reus van die Protestantse Hervorming, Johannes Calvyn. Hierdie man, van diep geloof, was 'n opregte Bybelstudent en 'n briljante geleerde. Maar soos alle mense, insluitend Martin Luther en John Wesley, was sy teologie nie perfek nie. Daar is gesê dat "groot manne dikwels groot dwaalleer voorhou," en ek glo dit was waar ook van Calvyn, wat gepoog het om sy konsepte van verlossing, wat die basis van Calvinisme vorm, te probeer orden.
Die vyf punte van Calvinisme kan opgesom word deur die akroniem TULIP. Alhoewel hierdie artikel hoofsaaklik op die laaste lering fokus, is dit waarskynlik nuttig vir ons om die ander kortliks te hersien aangesien hulle almal verbind is.
Wat is TULIP?
-
Calvyn se eerste grondliggende oortuiging is "Totale verdorwenheid"; dit wil sê, alle mense word gebore met 'n neiging tot sonde. Hierdie idee word duidelik in die Skrif geleer.
-
Die tweede punt is “Onvoorwaardelike uitverkiesing,” wat leer dat God self gekies het wie gered sal word en wie verlore sal gaan, 'n siening waarmee ek respekvol nie saamstem nie. Terwyl God alles weet, kies die Here nie arbitrêr wie gered sal word nie.
-
Die derde punt is "Beperkte versoening." Dit leer dat Jesus gesterf het om slegs diegene te verlos wat vooraf uitverkies was, die uitverkorenes, en nie vir almal nie. Natuurlik weerspreek hierdie idee 2 Korintiërs 5:14, 15, wat sê: “Christus het vir almal gesterf.”
-
Die vierde punt is "Onweerstaanbare genade", wat sê dat mense (a) slegs deur God se wil gered word, met (b) geen keuse van ons kant af nie. Ek glo albei hierdie is giftige leringe.
-
Die vyfde punt, en die hooffokus van hierdie artikel, is die "Volharding van die heiliges." In kort, dit stel dat diegene wat voorbestem is om gered te word, nie verlore kan gaan nie, selfs nie deur hul eie keuse nie. Sodra jy gered is, is jy altyd gered. Jy kan nooit jou redding verloor nie.
Is hierdie leerstelling Bybels - of is dit 'n gevaarlike lering wat 'n valse gevoel van sekuriteit verskaf en in werklikheid 'n persoon se redding kan ontspoor? Alhoewel baie Skrifverwysings vir hierdie giftige konsep voorgehou word, sal ons noukeurig kyk na diegene wat die meeste gebruik word om die idee te ondersteun dat sodra 'n persoon gered is, hy of sy "vir ewig vasgevang is" in daardie besluit.
Kom ons begin deur die leer van “Onvoorwaardelike uitverkiesing” te oorweeg.
Onvoorwaardelike uitverkiesing (ook genoem “onvoorwaardelike genade” of “predestinasie”) leer dat voor die wêreld geskep is, God sommige mense voorbeskik het om gered te word (die uitverkorenes) en die res... om voort te gaan in hul sondes en dus verdoem te word, oorgegee aan die "ewig brandende vure" van die hel. Menslike keuse, beweer dit, speel geen rol in verlossing nie. ’n Sleutelgedeelte wat gebruik word om hierdie siening te ondersteun, word in die apostel Paulus se geskrifte gevind— “Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.” (Romeine 8:29, 30).
Verseker kan Bybelgedeeltes gebruik word om die konsep te ondersteun dat God alles weet rondom die verlede, hede en toekoms. “Alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het.” (Hebreërs 4:13). Bybelprofesieë bevestig verder dat God die toekoms ken, maar toekomstige gebeure gebeur nie omdat God dit "vooraf bepaal" het nie; hulle word eerder deur God geken omdat hy reeds weet dit sal plaasvind.
Boonop, omdat God weet iets sal gebeur, beteken dit nie dat Hy wil hê dit moet gebeur nie.
Het God voorbeskik dat slegs sommige gered sou word? Paulus skryf elders dat God “wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.” (1 Timoteus 2:4). As net sommige voorbestem is om gered te word, hoekom sou Jesus redding aan almal bied? Christus het in die slothoofstuk van die Bybel gesê: “laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.” (Openbaring 22:17).
The Contemporary English Version Bible vertaal Romeine 8:29 meer presies en sê dat God “nog altyd geweet het wie sy uitverkorenes sou wees. Hy het besluit om hulle soos sy eie Seun te laat word, sodat sy Seun die eerste van baie kinders sou wees.” Terwyl almal tot redding geroep is, reageer nie almal nie... Maar vir hulle wat kies om na Christus te kom staan die belofte vas dat hulle verander sal word na Sy gelykenis.
Een rede waarom Calvyn predestinasie aangevoer het, was om seker te maak dat God al die eer ontvang. Hy het geglo dat as jy enige rol het om te speel in jou verlossing – selfs jou eie keuse om Jesus aan te neem – dan sal jy 'n bietjie krediet daardeur verdien. Daarom, het hy tot die gevolgtrekking gekom dat jy regtig nie 'n keuse het nie. God se soewereiniteit, het hy geleer, laat nie menslike vrye wil toe nie.
Dit is 'n interessante teorie, maar dit is nie Bybels nie.
Ek hou daarvan om aan God se voorkennis te dink as iets soos 'n helikoptervlieënier wat bo 'n berg vlieg met 'n eenrigtingtonnel wat daardeur gegrawe is. Aangesien die berg uit soliede graniet bestaan, het die ingenieurs besluit om net een baan deur die rots te blaas en 'n stoplig aan weerskante te plaas sodat voertuie om die beurt deur die smal tonnel kan beweeg. Maar op 'n spesifieke dag was een van die stopligte gebreek.
Toe die vlieënier afkyk, sien hy 'n groot vragmotor wat teen ‘n spoed die een kant van die berg binnegaan. Toe sien hy 'n rooi sportmotor wat van die ander kant af die tonnel binnegaan. Die helikoptervlieënier het geweet wat gaan gebeur; sy kennis het egter nie die onvermydelike ongeluk laat gebeur nie; hy het bloot voorafkennis gehad van 'n komende botsing as gevolg van sy unieke perspektief.
God het 'n alwetende perspektief. Hy weet of jy gered of verlore gaan word, maar hierdie wete neem nie jou vrye keuse weg nie. Ons weet dit as gevolg van die baie Skrifgedeeltes wat ons vryheid om te kies demonstreer. Josua het vir Israel gesê “kies dan vir julle vandag wie julle wil dien” (Josua 24:15). Die verhaal van die val van die mensdom toon die hoë waarde (en hoë prys) wat God aan Adam en Eva gegee het toe Hy hulle laat kies het of hulle Hom gehoorsaam of ongehoorsaam sou wees.
Farao se hart
Wat van die vers in die Bybel wat sê: "Die Here het die hart van Farao verhard"? (Eksodus 9:12). Het God Farao hardkoppig gemaak sodat Hy hom kon gebruik om Israel 'n les te leer? Het Farao hoegenaamd geen keuse gehad of sy eie hart hard sou wees of nie? Hou in gedagte, daar is verskeie ander verse wat aandui dat Farao sy eie hart verhard het. “Farao het ook in hierdie tyd sy hart verhard; en hy het die volk nie laat trek nie” (Eksodus 8:32; sien ook Eksodus 8:15; 9:34; 1 Samuel 6:6). Hoe het Farao se hart verhard geword?
Ek glo God het omstandighede na Farao gestuur om sy hart sag te maak. Maar die herhaalde waarskuwings wat Moses gegee het, is deur die Egiptiese leier geïgnoreer. Elke keer as 'n ander manifestasie van God se krag oor sy land gekom het, het Farao geweier om te luister en het sy hart, deur sy eie keuse, meer en meer verhard geword. As hy hom maar aan God se boodskappe onderwerp het, sou sy hart sag, buigsaam en leerbaar geword het.
Het jy al ooit opgemerk dat dieselfde omstandighede wat na verskillende mense kom, nie altyd dieselfde reaksies lewer nie? Dink aan die warm son wat op die aarde skyn. As jy 'n klont klei en 'n klont was langs mekaar onder dieselfde ligstrale sit, sal die een hard word en die ander smelt. Farao het gekies om soos klei te wees toe God se versoeke na die trotse heerser gekom het; God se lig het sy hart verhard.
Predestinasie leer dat God arbitrêr besluit wie gered word en wie verlore gaan. Met ander woorde, Farao sou eenvoudig geen ander keuse gehad het as om verlore te wees nie. Dit leer indirek dat die Here vir sommige mense kies om te sondig. Maar deur dit te doen, maak dit Hom 'n medepligtige tot sonde. In plaas daarvan om aan te bied om jou van sonde te red, bied predestinasie 'n God wat terugstaan en jou toelaat om in sonde te worstel. Dit is 'n gevaarlike geloof, want dit verdraai die deernisvolle karakter van 'n God wat die hele hemel uitgestort het om ons te red!
God verhard nie mense se harte nie. Hy is desperaat om almal te red. “So waar as Ek leef,” sê die Here God, “Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat die goddelose hom bekeer van sy weg en lewe. Draai om, draai weg van jou bose weë! Want waarom sou julle sterwe, o huis van Israel?” (Esegiël 33:11).
Hy stuur vir ons die waarheid om ons te help om in die regte rigting te beweeg. Dit is die verwerping van Sy boodskappe wat ons weerstaan… verwerping van lig uit die hemel. Wanneer mense herhaaldelik wegdraai van die appèlle van God se agentskappe, soos wat Farao gedoen het, is dit dan dat hulle weerstandig word, verhard soos klei, teen die verdere oortuigende oproepe van die Heilige Gees.
Veilig in Christus
Sommige wonder dalk: "As dit moontlik is om ons redding te verloor, kan ons dan nog steeds met sekuriteit en versekering van die ewige lewe lewe?"
Wel, wat is die voorwaardes om veilig te wees in ons verlossing?
Kom ons kyk na 'n ander gedeelte wat dikwels aangehaal word om die teorie van "eens gered, altyd gered" te ondersteun. 'n Behoorlike begrip van hierdie verse sal wanopvattings oor redding uit die weg ruim. "My skape hoor My stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My. En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie; en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. My Vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand is in staat om hulle uit die hand van my Vader te ruk nie" (Johannes 10:27-29).
’n Soortgelyke vers sê: “Alles wat die Vader My gee, sal na My toe kom, en Ek sal hom wat na My toe kom nooit uitwerp nie” (Johannes 6:37). Dit is beslis waar dat wanneer ons die Herder se stem hoor en na Christus toe kom, ons veilig in Sy hande is. Niemand, nie eers die duiwel, kan ons versekering wegneem nie.
Maar dui hierdie verse aan dat as ons eers by Jesus kom, ons die vryheid verloor om van Hom af weg te draai? Ons weet dat die Bybel sê: “God is liefde” (1 Johannes 4:8) en dat liefde nie liefde afdwing nie. Jy kan nie iemand dwing om jou lief te hê nie. Kom ons erken dit—gedwonge liefde is verkragting! God belowe dat wanneer ons vryelik na Hom toe kom, Hy ons nooit sal wegwys nie. Tog is dit teen die aard van God om ons te dwing om by Hom te bly as ons moeg word vir Sy koninkryk, net soos Lucifer daarvoor moeg geword het. Hierdie gedeeltes fokus dus op God se kant van die vergelyking. Ons mag vertrou dat wanneer ons na die Here kom, ons nie verwerp sal word nie. Maar ons is altyd vry – as gevolg van Sy liefde – om weg te loop.
As ons in Hom bly, sal God ons nooit los nie, maar ons is altyd vry om Hom te laat gaan, om op te hou om te bly wanneer ons ook al wil. Getrouheid in 'n huwelik vereis toewyding van beide partye.
Die sekuriteit van ons redding kan vergelyk word soos om jou geld in 'n bank te plaas. Baie banke hou daarvan om die woord "sekuriteit" in hul titel te gebruik om te beklemtoon dat jou geld veilig by hulle is. Die boodskap wat hulle wil hê jy moet glo, is: "Jy kan ons met jou kontant vertrou."
Gestel jy besoek 'n bank en kry 'n toer deur die fasiliteite. Een van die tellers wys vir jou al die alarms en kameras wat opgestel is om bankrowers vas te trek. Die teller wys die koeëlvaste glas, die baie sekuriteitswagte en die beveiligde kluis uit. Uiteindelik word u vertel dat u geld federaal verseker is. As u dus veilig voel, besluit u om u geld in hierdie bank te deponeer.
Wat sal gebeur as jy die volgende dag besluit om R1 000 te onttrek en daardie selfde teller vir jou sê: "Jy kan nie geld by ons bank onttrek nie." Jy protesteer maar word gesê: “Kyk, ons belowe jou dat jou geld in die bank is en veilig is; jy kan net niks daarvan onttrek nie.” Dit is natuurlik nie sekuriteit nie - dit is roof! Net so, wanneer jy jou keuse verloor om van God af weg te loop, dien jy Hom nie meer vrylik nie. Jy het 'n gyselaar geword.
Tog wil God hê dat jy veilig moet wees in jou verlossing. “Dit het ek geskrywe aan julle wat in die Naam van die Seun van God glo, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het en kan bly glo in die Naam van die Seun van God” (1 Joh. 13). Die voorwaarde om te weet dat jy die ewige lewe het, is om aan te hou glo in die naam en karakter van Jesus.
Wegval
As jy Jesus eers in jou lewe aanvaar het, is dit moontlik om weg te val? Beskou Jesus se gelykenis van die saaier, wat beskryf hoe die evangeliesaad op verskillende soorte grond versprei word. Let op wat gebeur wanneer die waarheid op een soort hart val:
“En 'n ander deel het op rotsagtige plekke geval waar daar nie baie grond was nie; en dadelik het dit opgekom, omdat daar geen diepte van grond was nie; maar toe die son opgaan, is dit verskroei, en omdat dit geen wortel gehad het nie, het dit verdroog.” (Matteus 13:5, 6).
Nou, as die saad "dadelik opgekom” het, beteken dit dat hierdie mense dit in hulle harte verwelkom het. Hulle het geglo wat hulle gehoor het, en die saad het uitgespruit. Dus, as dit “verwelk” het, het iets wat eens geleef het gesterf. Dit beteken dat sommige mense wat verlossing ontvang het op 'n stadium dit verloor het omdat hulle nie dieper wortels in Christus gegroei het nie.
’n Bybelvoorbeeld van iemand wat deur God uitverkies en selfs Geesvervuld was, maar toe weggeval het, was koning Saul. Hy is nie deur 'n algemene verkiesing gekies nie, maar is deur God self gekies. Het die Here vir Saul gekies om 'n voorbeeld van hom te maak en hom toe weggegooi? Nee! God het hierdie Benjaminiet gekies omdat hy die Here se keuse was. Saul was eers vervul met die Gees en het selfs geprofeteer, maar hy het toegelaat dat trots in sy hart opkom, die Heilige Gees bedroef en toe sy redding verloor.
Judas was een van Jesus se twaalf dissipels. Toe Christus hom uitgestuur het om die evangelie te verkondig (saam met sewentig ander), het hulle almal teruggekom om te rapporteer: “Selfs die demone is aan ons onderdanig in u Naam” (Lukas 10:17). Judas was beslis onder hierdie groep suksesvolle evangeliste en is deur die Here gebruik om vir ander te getuig.
Ons stel Judas soms voor dat hy gedurig rondgaan en sy hande met bose genot teen mekaar vryf en ander mense se geld probeer steel. Toe Judas by die dissipels aangesluit het, was sy hart geraak deur die leringe van Christus. Sy bedoelings was goed, tog het hy uiteindelik toegelaat dat sy eie opinies hom meer lei as die leringe van Jesus. Stadig het hy begin om die Verlosser se planne te weerstaan omdat hy gevoel het hy weet van beter en hy het uiteindelik weggeval. Verhale van mense soos Judas, Saul, Bileam en ander word aan ons gegee “as voorbeelde, en dit is opgeskryf tot ons vermaning” (1 Korintiërs 10:11) sodat ons nie in hulle weë sou volg nie.
Jesus maak dit duidelik in Sy boodskap aan die kerk van Sardis dat as die mense hulle nie bekeer en hulle van hulle slegte gedrag bekeer nie, hulle hul redding sou verloor. “Hy wat oorwin, sal beklee word met wit klere, en Ek sal sy naam nie uitwis uit die boek van die lewe nie; maar Ek sal sy Naam bely voor my Vader en voor sy engele” (Openbaring 3:5).
Jy Is Uitverkies
Wat beteken dit dan om "God se uitverkorenes" te wees? (Titus 1:1). Die Griekse woord vir uitverkies, eklektoi, beteken “verkiesde een” of “uitverkore”. Ek het eenkeer 'n predikant hoor verduidelik dat verkiesing beteken dat God Sy stem vir jou uitgebring het, die duiwel het teen jou gestem, en jy het die gelykop-stem. Almal word geroep om die Here te volg, maar nie almal reageer nie. Toe Jesus die gelykenis van die bruilofsfees vertel het, het Hy beskryf hoe baie van die aanvanklike gaste verskonings gemaak het en nie gekom het nie. Die koning het dus vir sy dienaars gesê om “op die hoofweë te gaan, en nooi almal wat julle kry na die bruilof” (Matteus 22:9). God het nie 'n paar uitgesoektes genooi om die evangelie-uitnodiging te ontvang nie. Hy wil hê dat soveel as moontlik die koninkryk moet binnegaan. Jesus het hierdie verhaal afgesluit deur te verduidelik: “Want baie is geroep, maar min uitverkies” (vers 14).
God se uitverkorenes is diegene wat op Sy roepstem reageer. Diegene wat gehoor gee aan die Here se bevele is die uitverkorenes, maar almal word geroep. Die boodskap is om "na elke nasie, stam, taal en volk te gaan" (Openbaring 14:6), maar nie almal sal die uitnodiging aanvaar nie. Sommige sal selfs na God draai, maar sal dan wegdraai. “Die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof sal afvallig word” (1 Timoteus 4:1). Hoe kan jy van die geloof afwyk tensy jy aanvanklik in die geloof was?
Die uitverkiesingsleer, soos deur Calvyn geleer, is gevaarlik omdat dit mense 'n valse gevoel van sekuriteit gee. Paulus het gewaarsku: “Ek verkondig julle die evangelie wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook ontvang het en waarin julle staan, waardeur julle ook gered word, as julle vashou aan die woord wat ek aan julle verkondig het—tensy julle tevergeefs geglo het.” (1 Korintiërs 15:1, 2). Die woord "as" suggereer dat voortdurende geloof 'n voorwaarde vir ons verlossing is. As ons nie vashou nie, glo ons tevergeefs.
Dit is onbybels om te leer dat ons aanhou om onder God se uitverkorenes te wees wanneer ons ons eie ding doen.
"Hieraan weet ons dat ons Hom ken, as ons sy gebooie bewaar. Hy wat sê: "Ek ken Hom," en nie sy gebooie bewaar nie, is 'n leuenaar, en die waarheid is nie in hom nie. Maar elkeen wat sy woord bewaar, die liefde van God het waarlik in hom volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom is. Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook te wandel soos Hy gewandel het” (1 Johannes 2:3-6).
Wanneer jy 'n blywende vertroue in Jesus het, kan jy weet dat jy 'n kind van God is en dat Hy die werk sal voltooi wat Hy in jou lewe begin het. “Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.” (Filippense 1:6). Hoe voltooi ons die wedloop wat ons begin het toe ons die Verlosser die eerste keer aangeneem het? “Let op Jesus, die Leidsman en Voleinder van ons geloof” (Hebreërs 12:2).
Ons kan die versekering van verlossing hê as ons ons oë op Christus hou en vashou aan Sy Woord. Ons kan weet dat ons die ewige lewe het wanneer ons voortgaan om in God se weë te wandel deur geloof. Maar as ons glo dat sodra ons Jesus aangeneem het, ons van Hom kan wegdraai en steeds gered kan word, sluk ons 'n kunsmatige evangelie in wat ons met groot teleurstelling kan laat.
Wat is die gevare van eenkeer gered, altyd gered?
-
Dit skep selfvoldaanheid en 'n louwarm Christelike lewe.
“En skryf aan die engel van die gemeente van die Laodicense: Dít sê die Amen, die getroue en waaragtige Getuie, die begin van die skepping van God: Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm!” Openbaring 3:14,15 -
Dit verontagsaam die belangrikheid van voortdurende bekering. Bekering blyk om onnodig te wees nadat jy aanvanklik weg van die ou lewe afgedraai het...dit terwyl voortdurende heiligmaking die wil van God die Vader vir ons is. "Want dit is die wil van God: julle heiligmaking" I Thessalonicense 4:3
-
Dit verminder die belangrikheid van goeie werke. "Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel" Efesiers 2:10
-
Dit ignoreer die noodsaaklikheid vir voortdurende gehoorsaamheid. "As julle My liefhet, bewaar my gebooie" Johannes 14:15
-
Dit verminder die kragtige rol van genade. Genade is nie 'n lisensie om in sonde voort te lewe of ruimte te gee vir af-en-toe sondes nie. Genade bemagtig ons om sonde te kan oorwin en om in die geloof voort te gaan. "WANT die reddende genade van God het aan alle mense verskyn en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe." Titus 2:11
-
Dit verminder die belangrikheid van deursettingsvermoë (om met volharding die wedloop te loop). "AG dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk." Jakobus 1:2-4
-
Dit verminder die belangrikheid van geestelike groei. "Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus. Aan Hom kom die heerlikheid toe, nou sowel as in die dag van die ewigheid. Amen." 2 Petrus 3:18
Oorweeg ernstig waarheen jy oppad is. As jy agter kom dat jy op die verkeerde trein is, maak seker dat jy by die eerste stop afklim. Hoe langer jy aanbly, hoe duurder gaan die terugreis jou kos. Nee - dit gaan nie oor treine nie...