top of page
Cabin.jpg

HEILIGHEID EN HEILIGMAKING

 

Want dit is die wil van God: julle heiligmaking” (1 Tessalonisense 4:3).

"Christus is behandel soos ons verdien, sodat ons behandel kan word soos Hy verdien. Hy is veroordeel vir ons sondes, waarin Hy geen aandeel gehad het nie, sodat ons kan geregverdig word deur Sy geregtigheid, waaraan ons geen deel gehad het nie, Hy het die dood gely wat ons s'n was, sodat ons die lewe kan ontvang wat Syne was.” — Die Koning van die Eeue, bl. 20.

Stel jou voor iemand hoor hierdie wonderlike nuus van hierdie heerlike en duur voorsiening wat vir die sondaar gemaak is en in dankbaarheid sê hy: "Omdat ek deur Sy geregtigheid alleen aanvaar word, kan ek nou aangaan en doen net wat ek wil. Sjoe! die goeie nuus is beter as wat ek ooit gedink het!"

Verseker is dit 'n onvanpaste reaksie op die Evangelie Boodskap. In plaas daarvan behoort die persoon se reaksie inderdaad te wees: "Sjoe! As gevolg van wat Jesus vir my gedoen het, omdat ek deur Sy geregtigheid alleen aanvaar word, daarom haat ek die sonde wat in my is. O, Here, ek het U so lief. Verander my asseblief, reinig my en maak my meer soos U!"

Kom ons kyk wat die realiteit van die Kruis aan die lewe van die persoon doen wat dit as sy of haar eie aanvaar.


Goedkoop Genade en die Kruis -
Wat is die Evangelie Boodskap in 'n neutedop? "Regverdigmaking deur geloof" is die goeie nuus dat die volmaakte lewe van Jesus, Sy volmaakte geregtigheid, aan ons gekrediteer word asof dit ons eie is, asof ons self Sy sondelose lewe gelei het, al het ons nie eers naastenby naby dit gekom nie. Hierdie verklaring van geregtigheid, ten behoewe van ons, word ontvang deur geloof, nie deur werke nie.

 

Ons glo — en Christus se geregtigheid word ons eie in die oë van God.

 

Bewus van ons eie uiterste behoefte, kom ons aan die voet van die Kruis en eis iets wat nie ons s'n is nie; en ons kry dit, nie omdat ons waardig is nie, maar omdat God 'n God van genade is en deur Christus se dood word aan ons gegee... dit... wat ons nooit self kon verdien nie, maak nie saak hoe getrou en ywerig ons probeer het om die wet te gehoorsaam nie... of selfs die gees van die wet.

Tog eindig die goeie nuus van verlossing nie met die uitspraak of verklaring dat die gelowige geregverdig is nie. God verklaar nie net 'n sondaar regverdig en is dan klaar met daardie persoon nie. Inteendeel, hierdie verklaring van geregtigheid is net die begin. Iets anders gebeur met 'n persoon wat geregverdig is. Dit is wat bekend staan ​​as heiligmaking, en dit is 'n onafskeidbare deel van die evangelie.

"En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God" (1 Kor 6:11). Lees ook Romeine 6:1-16 & Galasiërs 5:16-25.

Daar is geen twyfel dat diegene wat deur geloof geregverdig is, 'n nuwe lewe in Christus sal hê, 'n lewe van gehoorsaamheid en heiligmaking. Regverdiging deur geloof, sonder heiligmaking (wat ook deur geloof is), is 'n valse vorm van regverdiging en 'n valse evangelie. Dit is eerder goedkoop genade want waar dit moet gaan oor God wat die sondaar regverdig verklaar, gaan dit  oor die sondaar wat sy sonde regverdig (verskoon). Dit is 'n evangelie wat op die ou einde niemand red nie.

Stel jou twee mense voor: Die eerste persoon glo dat hy met al sy Godgegewe mag moet streef om die geregtigheid te bereik wat hy nodig het om gered te word, want hy is nie heeltemal seker hy het daardie redding om mee te begin nie. So dan... streef hy na 'n lewe van gehoorsaamheid.
Die tweede persoon werk vanuit die uitgangspunt dat hy reeds in Christus gered is, dat Sy geregtigheid hom reeds bedek, en nou uit liefde en dankbaarheid streef hy met al sy Godgegewe mag na 'n lewe van gehoorsaamheid.

Wie dink jy sal meer geneig wees om suksesvol te wees in die Christelike lewe?


Heiligmaking - Om afgesonder te wees (eenkant gesit vir spesiale gebruik)
Omdat God dit so wou, is ons vir Hom afgesonder deurdat Jesus Christus sy liggaam as offer gebring het, eens en vir altyd.” (Heb. 10:10).

In die Hebreeuse taal kom die woord wat dikwels met "heilig" vertaal word (kadosh, of hakodesh) in verskeie vorme meer as 800 keer in die Ou Testament voor. In die Grieks kom hagaizo of hagios, wat dikwels vertaal word as "om te heilig" en "heilig" ongeveer 240 keer in die Nuwe Testament voor. In beide gevalle word die woorde nie net as "heilig" vertaal nie, maar ook as "heiligheid" of "om heilig te maak". Dus, deur die oorspronklike betekenisse alleen, word ons 'n kragtige aanduiding gegee dat heiligmaking gekoppel is aan die idee van heiligheid (of heilig wees). Maar wat is heiligheid? In Hebreeus is die basiese betekenis "om afgesonder vir heilige gebruik," of selfs "om afgesonder van sonde te wees vir God."

Die wat geheilig word, behoort dus aan God en aan Sy diens.

Heiligheid is belangrik in God se oë:

  • "Spreek met die hele vergadering van die kinders van Israel en sê vir hulle: Heilig moet julle wees, want Ek, die HERE julle God, is heilig." (Lev 19:2)

  • "Toon dan dat julle heilig is en wees heilig, want Ek is die Here julle God." (Lev 20:7)

  • "En julle moet vir My heilig wees, want Ek, die Here, is heilig; en Ek het julle van die volke afgesonder om myne te wees." (Lev 20:26)


Dit is interessant dat in die Bybel nie net mense geheilig, of heilig gemaak word nie. Die plek waar God Sy teenwoordigheid openbaar is op "heilige grond" (Eks 3:5); die Sabbat(dag) is heilig omdat dit 'n dag was wat deur God afgesonder is (Eks 20:8-11); die heiligdom (of tabernakel) word die "heilige plek" genoem omdat dit ook deur God afgesonder is vir Sy gebruik (Eks 26:33).

Dit is egter belangrik om daarop te let dat nie een van hierdie dinge heiligheid het, of geheilig word, deur enigiets wat daarin is nie. Die Sewende dag, as dit nie deur die Here heilig geag word nie, sou net enige ander dag wees. Heiligheid, of heiligmaking, is iets wat deur 'n heilige God geskenk word; DIT IS IETS WAT GOD SELF DOEN, hetsy aan 'n persoon of aan 'n ding. In die geval van antieke Israel, byvoorbeeld, het Hy hulle afgesonder, hulle weggeroep van slawerny en selfs van die invloed van die heidense nasies rondom hulle sodat hulle 'n volk kon wees wat Hy in Sy diens kon gebruik, dié van om die wêreld te onderrig oor die Een ware God (Eks 19:6).


Die Toestand van Heiligheid -
"Aan die gemeente van God wat in Korinthe is, aan die geheiligdes in Christus Jesus, die geroepe heiliges, saam met almal wat die Naam van onse Here Jesus Christus in elke plek aanroep, hulle sowel as onse Here" 1 Korintiërs 1:2.

Let op dat Paulus die kerk "geheiligdes in Christus Jesus" noem. Die Griekse woord vir "geheiligdes" kom in 'n tyd voor wat 'n voltooide handeling in die verlede beteken wat voortdurende resultate in die hede het. Tog, as jy oor die kerk van Korinte lees, ontdek jy dat dit met baie ernstige etiese en teologiese probleme gesukkel het (sien 1 Korintiërs 5, 6). Hoe moet ons dan verstaan ​​dat hierdie kerk “geheilig” is? In die Bybel is daar nie iets soos gedeeltelike heiligmaking nie. Ons behoort geheel en al aan Christus vanaf die oomblik dat ons wedergebore is, en ons bly so... solank ons ​​deur geloof aan Hom verbind bly. Heiligmaking dui altyd op 'n totale ervaring van God se eienaarskap. Hierdie eienaarskap is volkome by bekering en behoort so voort te gaan regdeur die Christelike lewe. Tog is "heiligmaking die werk van 'n leeftyd". Hoe verstaan ​​ons dan hierdie idee?

Daar is verskillende fasette aan die idee van heiligmaking. In die verhoudings sin, dié van ons wat afgesonder gemaak word deur God vir God, IS DIE WERK REEDS VOLTOOI. Ons behoort reeds aan God. Ons is reeds deur Hom geheilig. As gevolg van wat Christus aan die kruis gedoen het, het die Here die reg om ons as Syne te eis.

Maar in 'n morele sin, in die sin van groei in genade, IS ONS STEEDS IN DIE PROSES OM GEHEILIG TE WORD. In hierdie twee verse - "Heilig hulle deur u waarheid: u woord is waarheid" (Joh 17:17) en "Mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak" (1 Thess. 5:23) - verskyn die werkwoord vir "heilig" in die teenwoordige tyd, soos in 'n voortdurende proses waardeur ons deel kry aan Christus se heiligheid in 'n duidelike morele en praktiese sin. Deur geloof, en in totale afhanklikheid van God, word ons verander deur die krag van God wat in ons werk, om ons te reinig, om ons van sonde te suiwer, sodat die karakter van Christus in ons gevorm word.

"My kinders, vir wie ek weer in barensnood is totdat Christus in julle 'n gestalte verkry." (Gal 4:19)

In die konteks van wat ons tot dusver bestudeer het sê hierdie teks dat Christus se karakter in die kinders van God dringend vorm moet aanneem - Die Woord, Jesus Christus, moet lewendig word binne die beleide gelowige. HEILIGMAKING MOET VOORTDUREND TOENEEM.

Jou lewe is verborge by God in Christus -
"AS julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word" (Kol 3:1-4).

Hierdie is sulke pragtige verse, en hulle vang so duidelik die verhoudingsaspek van ons nuwe lewe in Christus vas. Ons het saam met Jesus opgestaan, omdat ons eers saam met Hom gesterf het. Dit wil sê, op die oomblik van bekering, het ons gesterf aan ons ou self en leef nou 'n nuwe lewe in Jesus, 'n lewe waarin ons, deur geloof, deur die krag van die Heilige Gees, in ons eie vlees, in ons hart, met ons eie woorde en dade, die karakter van Christus manifesteer: "wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing" (1 Kor 1:30).

God se geregtigheid, verkry deur Jesus en vrylik aan ons gegee, het twee fasette: (a) toegerekende geregtigheid, of tewel 'n geregtigheid wat aan ons toegeskryf word (ons word in God se oë as geregverdig gereken) en (b) meegedeelde geregtigheid, wat Kolossense 3:1-4 oor praat, naamlik wanneer die geregtigheid van Jesus in ons geopenbaar word. Ons praat nie hier van 'n slaafse gehoorsaamheid aan reëls of wette nie, maar die ervaring om aan die ou mens te sterf sodat God sy eie karakter aan ons kan gee. Dit is van kardinale belang om te onthou dat ons gevalle wesens is, en ons val het meer as veroordeling deur God as gevolg van sonde ingesluit. Ons sondeval het die degenerasie van die menslike ras ingesluit – moreel, fisies en geestelik. Christus het gesterf en opgestaan ​​en dien nou in die hemel OM ONS TE HERSTEL TOT WAT ONS WAS VOOR DIE SONDEVAL. Heiligmaking, wat die morele herstel van die beeld van God (in die mens) begin, is deel van hierdie herstel proses.


Die Wet en die Evangelie -
Watter rol speel die wet by heiligmaking? Ons het God lief as gevolg van die verlossing wat ons s'n is deur die Kruis. En as gevolg daarvan wil ons die Here in geloof en gehoorsaamheid volg. Deur die krag van die Heilige Gees kan ons dit doen, wat 'n nuwe lewe in Christus tot gevolg het ("Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword." 2 Kor. 5:17).

Tog bly die vrae:

  • Hoe weet ons of ons werklik aan God gehoorsaam is?

  • Hoe weet ons of die Gees ons op 'n bepaalde manier lei en of ons deur 'n ander krag aangespoor word?


As ons God liefhet omdat ons deur geloof geregverdig is en ons Hom wil gehoorsaam (Matt. 7:24, Rom. 1:5, 16:26, Gal. 3:1, Heb. 5:9, 1 Pet. 4 :17), moet ons weet wat God van ons verwag.

Johannes 8:11, 34; Gal. 2:17; Johannes 8:34; Rom. 6:13; 1 Johannes 2:1; 3:8; Heb. 3:13; 12:4 bevestig dat 'n lewe van sonde (die ou sondige weë asook af-en-toe sondes) nie by kinders van die HERE hoort nie. Hoe kon daar al hierdie vermanings teen sonde vir die Christen wees, tensy daar 'n wet was om sonde te definieer (Rom. 7:7, 1 Joh. 3:4)? Die bestaan ​​van sonde beteken outomaties die bestaan ​​van die wet. Jy kan nie sonde sonder wet hê nie, net so min as wat jy 'n misdaad sonder wet kan hê. Vir die Nuwe Testament om te eis dat ons ons weerhou van sonde, en tog om die wet nietig te maak, maak omtrent net soveel sin as 'n nasie wat eis dat burgers nie motors steel nie, terwyl terselfdertyd wette teen motordiefstal nietig verklaar word...

God se wet is geestelik (Rom. 7:14), en dit is gemaak vir geestelike wesens, wesens wat deur die Heilige Gees beweeg word om die Here te gehoorsaam. Die wet is gemaak om niemand te red nie, maar om as't ware veilige grense vir ons te bepaal, om ons te help verstaan ​​hoe ons die liefde vir God wat ons bely, in ons lewens moet openbaar. Enigiemand kan bely dat hy of sy God liefhet, en mense deur die jare, wat beweer dat hulle "gelei word deur die Gees," het probeer om hierdie "liefde" op 'n paar baie vreemde en selfs kwetsende maniere uit te druk. Die Bybel vertel ons egter, sonder onduidelikheid, hoe ons daardie liefde moet openbaar: “Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar, en sy gebooie is nie swaar nie” (1 Joh 5:3). Die Gees gaan ons lei, nie in stryd met die wet nie maar op 'n manier dat "die geregtigheid van die wet vervul kan word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees" (Rom. 8:4).

"Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele" (Matt 5:3).
Om hulp van Christus te ontvang, moet ons ons behoefte besef. Ons moet 'n ware kennis van onsself hê. Dit is net hy wat weet dat hy 'n sondaar is wat Christus kan red. Slegs as ons ons totale hulpeloosheid sien en alle selfvertroue verloën, sal ons vashou aan goddelike krag. Dit is nie net aan die begin van die Christelike lewe dat hierdie verloëning van self gemaak moet word nie. By elke tree hemelwaarts moet dit vernuwe word. Al ons goeie werke is afhanklik van 'n krag buite onsself; daarom moet daar 'n voortdurende uitreik van die hart na God wees, 'n konstante, ernstige belydenis van sonde en verootmoediging van die siel voor Hom. Gevare omring ons; en ons is alleen veilig as ons ons swakheid voel en met die greep van geloof vashou aan ons magtige Verlosser.

 

"Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie" (Heb 12:14)
"By baie is heiligmaking slegs eiegeregtigheid. En tog maak hierdie persone met vrymoedigheid aanspraak op Jesus as hulle Verlosser en Heiligmaker. Wat 'n dwaling! Sal die Seun van God die oortreder van die Vader se wet heilig – daardie wet wat Christus gekom het om te verhoog en eerbaar te maak?” Faith and Works, bl. 29.

 

Wat is heiligheid? Dit is om afgesonder vir heilige gebruik te wees of anders gestel, om afgesonder van sonde te wees vir God. Dit is 'n lewe van totale oorgawe aan God deur Sy wil te doen: Sondeloosheid en 'n geesgevulde en begeleide lewe.

Lees en bepeins Romeine 5 & 6

  •  Hoe moet ek my lewe inrig en lei om te deel in die vreugde wanneer Jesus terugkeer? ...

 

bottom of page