top of page

4. Onthou Die Sabbatdag -

Baie mense wat groot respek het vir die 10 Gebooie dink nie dat die Vierde Gebod regtig belangrik is nie en ook nie bindend is nie. Wanneer jy die Gebod egter VERSTAAN, sal jy sien hoe lewens-veranderend, selfs wêreld-veranderend die Sabbatgebod regtig is, en jy sal begin om te waardeer hoe relevant dit in jou eie lewe is.

“Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die sabbat van die HERE jou God; dan mag jy géén werk doen nie — jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie. Want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die HERE die sabbatdag geseën en dit geheilig.”

Hoekom is hierdie Gebod so belangrik?

  • Eerstens, seker meer as enige ander Gebod het hierdie Gebod die mensdom in status kom verhoog. Hoe so? Vir bykans die meeste van menslike geskiedenis het lewe in meerdere mate net bestaan uit werk, werk en nogmaals werk. In effek was die mensdom “werks-esels”. Hierdie Gebod, en slegs hierdie Gebod, het dit alles kom verander deur aan te dring dat mense een dag uit elke sewe ophou werk.

  • Tweedens, meer as enige ander Gebod, herinner die Sabbatdag mense dat hulle bedoel is om waarlik VRY te wees. Die tweede weergawe van die 10 Gebooie, die een wat deur Moses in Deuteronomium opgesom is, verklaar: “En jy moet daaraan dink dat jy in Egipteland ’n slaaf was, en die HERE jou God jou daarvandaan uitgelei het deur ’n sterke hand en ’n uitgestrekte arm; daarom het die HERE jou God jou beveel om die sabbatdag te hou.” (In ander woorde: “Onthou julle was slawe en is bevry. Onthou verder dat slawe nie ‘n rusdag het nie.” In die lig hiervan moet ek byvoeg dat in die Bybelse sienswyse, indien dit nie ‘n noodsaak vir oorlewing is nie, is mense wat KIES om sewe dae ‘n week te werk eintlik slawe... Slawe van werk of van geld, nogtans slawe! Die miljoener wat sewe dae ‘n week werk, is eenvoudig ‘n RYK slaaf.)

  • Derdens, terwyl die Bybel nie slawerny universeel kan beëindig nie, het die Sabbatgebod grootliks daardie verskriklike instelling vermenslik, en het selfs gehelp om slawerny onmoontlik te maak. Per definisie is ‘n slaafeienaar onder geen verpligting om ‘n slaaf toe te laat om ooit te rus nie, nog minder om hom een dag per week te laat rus nie. Maar dit is presies wat die Vierde Gebod beveel het. Selfs ‘n slaaf het dus fundamentele menseregte! Daarom is ‘n slaaf ook ‘n mens.

  • Vierdens, die Sabbatdag is amper uitsluitlik die oorsaak dat familie- en vriendskapsbande geskep en versterk word. Wanneer ‘n persoon een dag ‘n week sy werksbedrywighede staak, dan word daardie dag onvermydelik ‘n dag van samesyn met ander mense naamlik familie en vriende. Dit het gelyksoortige positiewe effekte op die huwelik: Vra enigeen wat met ‘n werkslaaf getroud is, hoe goed dit vir hul huwelik sou wees indien die werkslaaf vir een dag elke week nie werk nie – dan kan mens die krag wat die Sabbatdag inhou, waardeer.

  • Vyfdens, die Sabbatgebod het vir diere waardigheid gebring. Selfs mens se diere moes een dag ‘n week rus. Dit is, sover ons van bewus is, die eerste nasionale wet in die geskiedenis vir diere- beskerming. Die voordele vir diere het sekerlik op ander terreine uitgekring as net die verpligte rusdag, een dag per week: Mense wat verplig gevoel het om hul diere op die rusdag te laat rus, het heel moontlik ook nie hul diere op enige ander dag van die week mishandel nie.

 

Elk van die bostaande vyf lewens-veranderende en beskawing-veranderende voordele van die Sabbat is beskikbaar vir ENIGEEN! Jy hoef nie ‘n Jood te wees, ‘n Christen, of selfs ‘n gelowige in God, om al hierdie voordele af te lei nie. Maar die realiteit is dat diegene wat glo dat die 10 Gebooie deur God gegee is, is diegene wat die Sabbatdag lewend gehou het.

Die God-faktor speel nog ‘n belangrike rol in die Sabbat – net soos geloof in God mense na die Sabbat bring, net so bring die onderhouding van die Sabbat mense tot geloof in God. Dit is hoekom die eerste weergawe van die 10 Gebooie (in Eksodus 20) eindig met hierdie woorde:

“…Want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die HERE die sabbatdag geseën en dit geheilig.”

Hoe ookal jy ses dae interpreteer, want menigte Joodse en Christen gelowiges interpreteer nie almal dae om 24 uur lank te wees nie, is die punt dit: Elke keer wanneer jy die Sabbat onderhou, bevestig jy dat daar ‘n Skepper is, dat die wêreld nie “net gebeur” het nie. Dat die lewe nie net ‘n betekenislose toeval is nie, maar dat dit oneindig betekenisvol is en daarom het elk van ons ‘n unieke betekenis en doel.

Nie sleg vir een dag van ‘n week nie! Geen wonder dat die Sabbatgebod een van die 10 Gebooie is nie. Geen wonder dat diegene wat die Sabbatdag in hul lewens eerbiedig, meestal gelukkiger is, ‘n ryker familie- lewe het, met meer kalmte, ‘n gemeenskap van vriende en ja, selfs gesonder! Jy mag dit dalk wil “uitprobeer”!

'n Liefdesverklaring: "Omdat U die ereplek in my lewe het, is die rusdag die hoogtepunt van die week vir my. Dit is vir my ’n vreugde om in die Gemeenskap van die gelowiges U te aanbid; ’n dag om na uit te sien, nie om teen op te sien nie!"

Voetnota - Die Vierde Gebod, sal jy merk, is ook 'n "toets" Gebod - die enigste Gebod waar God Sy volgelinge vra om Sy Dag, wat Hy heilig verklaar het, te gedenk (onthou; nie van vergeet nie). Hierdie "toets" Gebod toets ons gehoorsaamheid aan God.

 

"Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig..."

Gelowiges wat God gehoorsaam, wat Hom genoegsaam eer en daarom hulself aan Sy gesag onderwerp, word in die laaste boek van die Bybel, Openbaring, beskryf as "heiliges" wat "...Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar." Openb 14:12 en ook "Salig is die wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad." Openb 22.14

Kyk mooi, die heiliges wat die wenpaal bereik, en die ewige lewe beerwe se lewens getuig van REDDENDE geloof deur hul gehoorsaamheid aan God se gebooie. (Gehoorsaamheid is 'n vrug wat getuig van God se reddende krag in die gelowige se lewe. Gelowiges word nie deur gehoorsaamheid gered nie maar is gehoorsaam juis omdat hulle deur Christus, genade en geloof alleen gered is.)

 

Die Vierde Gebod toets God se volgelinge om daardeur hulle liefde teenoor God te bewys. Jesus Christus sê duidelik: "As julle My liefhet, bewaar my gebooie." Joh 14:15. Wie God liefhet sal Sy gebooie bewaar (gehoorsaam). Wie God liefhet wil vry wees van hulle sondige lewe en wil Hom liefhê uit hul hele hart en uit hul hele siel en uit hul hele krag en hele verstand (Lukas 10:27), en vir hulle gaan God teen die einde van tyd kom verseël met Sy Merk.


“En ek het 'n ander engel sien opkom van die opgang van die son, met die seël van die lewende God; en hy het met 'n groot stem geroep na die vier engele aan wie dit gegee is om die aarde en die see te beskadig en gesê:  Moenie die aarde of die see of die bome beskadig voordat ons die diensknegte van onse God op hulle voorhoofde verseël het nie.” Openb 7:2,3

Studeer verder en verstaan hierdie belangrike seël van die lewende God waarmee God se engel Sy diensknegte gaan kom verseël (of "Merk"). Daar is baie misleidings en misverstand rondom hierdie seël. Jou ewigheid hang daarvan af. (Kyk gerus hoe hierdie Gebod van God 'n sterk rol in die finale einde speel rakende die merk van die dier.)

Hoe om Jesus se Sewendedagsabbat te vier. (Sien ook hierdie Facebook blad)

bottom of page