top of page
feeste.jpg

Die Ou-Testamentiese Feeste - Moet Christene Vandag Steeds Die Feeste Vier?

 

“Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: Die feestye van die HERE wat julle moet uitroep as heilige samekomste dit is my feestye.” (Levitikus  23:2)

 

Die Hebreeuse woord vir feeste, mô’êd, beteken ‘n vasgestelde / vooraf bepaalde tyd, of, by implikasie, ‘n afspraak. In Levitikus 23 is God baie spesifiek oor die presiese tye waarop die sewe vernaamste feeste gevier moet word. Die feeste was ‘n hoogtepunt op die godsdienstige kalender van die Joodse volk. Elke fees het vooruit gewys na Christus, die Messias en die verlossingswerk wat Hy vir Sy kinders sou doen. Die nommer sewe vertoonwoordig in die Bybel volmaaktheid en dus kan ons uit hierdie sewe feeste leer van die volmaakte verlossingsplan wat God deur sy Seun bewerk het vir Sy kinders.

 

Daar heers ernstige debat in die Christelike gemeenskap oor die noodsaaklikheid om die Joodse Feeste te onderhou. In hierdie studie sal ons die verskillende feeste en die betekenis van elkeen bestudeer. Ons sal  ondersoek instel of ons wel vandag steeds die feeste moet vier, al dan nie.

 

A. Die Joodse Kalender

feeste.jpg
  • Die Joodse kalender het ’n maanjaar gebruik waarin elke maand na die verskyning van die eerste skrefie van die nuwemaan begin.

  • Aanpassings moes van tyd tot tyd gemaak word deur ‘n dag by sekere maande te voeg sodat die lengte van die jaar in pas kon wees met die wenteling van die son en maan. Verder is ‘n hele maan-maand elke tweede of derde jaar, of gemiddeld sewe keer in negentien jaar by die kalender gevoeg. (Ons het vandag skrikkel jaar om hierdie probleem te oorbrug en ons jaar bestaan  gemiddeld uit 365 ¼  dae.) Die sewe maande waartydens die feeste gevier is, is egter nie hierdeur geraak nie. Enige veranderings is vanaf die agtste maand gemaak. Die dae van die week is ook nie geaffekteer nie.

  • Die antieke Joodse godsdienstige kalender jaar het in die lente van die noordelike halfrond begin.

  • Die Joodse godsdienstige kalender verskil van die siviele kalender (soos hier bo aangedui). ‘n Bybelse koning se regeringstyd word  soms aangedui volgens die siviele, en nie die godsdienstige kalender nie. Die siviele kalender het in die herfs begin.

  • Vir die doel van hierdie studie is bostaande inligting voldoende vir agtergrond.

 

B. Die Feeste (Levitikus 23, Deuternomium 16)

  • Paasfees, die fees van Ongesuurde Brode en die Fees van die Eersteling Gerf is gevier gedurende die eerse helfte van die jaar. Hierdie feeste word geassosieer met die Messias se eerste koms na die aarde en word duidelik vervul in die Nuwe Testament.

  • Die Trompette Fees, Dag van Versoening en die Huttefees is gevier gedurende die tweede helfte van die jaar in die herfs. Hierdie drie feeste hou verband met gebeure wat geassosieer word met die Wederkoms van Christus. Hulle was Oesfeeste.

  • Die Pinksterfees of Fees van Weke, is gevier tussen die ander ses feeste en is altyd 50 dae na die Paasfees gevier.

  • Drie van die feeste was beskou as pelgrimsfeeste, waartydens die Hebreërs  opgetrek het na die tempel in Jerusalem. “Drie maal in die jaar moet al jou manne voor die aangesig van die Here jou God verskyn op die plek wat Hy sal uitkies; op die fees van die ongesuurde brode en op die fees van die weke en op die huttefees; en hulle mag nie met leë hande voor die aangesig van die Here verskyn nie; elkeen volgens die gawe van sy hand ooreenkomstig die seën van die Here jou God wat Hy jou gegee het.” (Deuternomium 16:16)

  • Die feeste moes gevier word met groot omsigtigheid en die heilige feesdae moes gevier word soos die Sabbatdag, waartydens geen werk verrig mag word nie. Met betrekking tot die Versoen Dag, byvoorbeeld, het die Here vir Moses gesê: “’n Dag van volkome rus moet dit vir julle wees, en julle moet julle verootmoedig. Op die negende van die maand in die aand, van aand tot aand, moet julle jul sabbat hou.” Dwarsdeur Levitikus 23, vind ons die opdrag dat die feeste heilige dae was waartydens beveel is: “Geen beroepswerk mag julle doen nie.” Hierdie fees-sabbatte het nie die viering van die weeklikse Sabbat vervang nie. (Levitikus 23:37,38)

 

1. Paasfees (Pesach)

  • “In die eerste maand, op die veertiende van die maand, teen die aand, is die pasga van die Here.” (Levitikus 23:5)

  • In Hebreeus beteken Pesach die fees van die slagoffer.

  • Dit was ‘n pelgrimsfees en is in Jerusalem gevier gedurende Nisan 14 – 15, tydens die eerste nuwe maan van die lente.

  • Die Israeliete moes op hierdie dag die uittog uit Egipte gedenk, toe die doodsengel oor elke woning gegaan het en die eersgeborene seun van elke huishouding laat sterf het. Slegs in die huishoudings waar die bloed van ‘n lam teen die deurpos geverf is, is die oudste seun se lewe gespaar. (Lees meer hieroor in Eksodus 12) Daardie aand moes die Israeliete die vleis van ‘n vars geslagte lam staan en eet. Die lam het die liggaam en bloed van die Messias tipologies voorgestel. Hy, die Redder, sou die mensdom van hulle sondes kom verlos deur Sy bloed te stort en Sy liggaam te gee aan die dood.

  • Jesus is gekruisig in die tyd van die Paasfees. Hy is die anti-tipe vir die lam wat geslag is. Die Verlosser het gesterf op die juiste tyd van die dag wanneer die paaslam geslag is vir die fees.  Johannes die Doper het na die vervulling van hierdie vooruitsig verwys toe Hy Jesus aan die mense voorstel: “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Johannes 1:29). “Want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus.” (1 Korintiërs 5:7)

  • Vandag gedenk ons die dood van die Verlosser elke keer as ons deelneem aan die nagmaal. “Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here tot Hy kom.” (1 Korinthiërs 11:26)

 

2. Fees van die Ongesuurde Brode (Chag Hamotzi)

  • “... en op die vyfiende dag van hierdie maand is die fees van die ongesuurde brode van die Here; sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet.” (Levitikus 23:6)

  • Hierdie fees het sewe dae geduur, Nisan 15-22 en het begin net na die Paasfees. Vir sewe dae lank moes alleenlik ongesuurde brode geëet word.

  • Die Hebreeuse betekenis vir die eet van ongesuurde brood (matstsâh), is om iets wat nie bitter gemaak is deur die byvoeging van gis nie, gulsig te verorber.

  • Die Fees van Ongesuurde Brode het vooruitgewys na die die sondelose lewe van Christus, (Hebreërs 4:15) die Brood van die Lewe. “En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie.” (Johannes 6:35)

  • ‘n Interessante feit: Jesus is gebore in Bethlehem (bêyth-lechem) wat in Hebreeus vertaal word as “huis van brood”.

  • In die Bybel word suurdeeg vereenselwig met sonde, terwyl ongesuurde brood met reinheid van karakter en hart vereenselwig word. “Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ‘n nuwe deeg kan wees – want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus. Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van REINHEID en WAARHEID.” (1 Korinthiërs 5:7,8)  Sien ook Galasiërs 5:9; Lukas 12:1.

  • Wanneer ons “gulsig” eet van die Brood van die Lewe wat vlekkeloos was, sal ons leer om te wandel soos Hy gewandel het. “Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ‘n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstape kan navolg; Hy wat geen sonde gedoen het nie, en in wie se mond geen bedrog gevind is nie.” (1 Petrus 2:21,22)

  • Hoe kan ons vandag die sondelose karakter van Christus gedenk? “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferming van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer – dit is julle redelike godsdiens.” (Romeine 12:1)

 

3. Fees van die Eerstelinggerf  (Yom Habikkurim)

  • Spreek met die kinders van Israel en sê aan hulle: As julle in die land kom wat Ek julle gee en sy opbrings oes, moet julle die eerstelinggerf van julle oes na die priester bring.” (Levitikus 23:10)

  • Die fees is net vir een dag gevier, op Nisan 16-17, en het die eerste opbrengs van die lente oes ingehuldig.

  • Die eerste gerf van die lente-oes is voor die Here beweeg en spesiale drank en spys offers is aan God gebring voordat die oes begin het. Hierdie fees is gevier met dankbare harte teenoor die Voorsiener van daaglikse behoeftes en die Gewer van die Ewige Lewe.

  • Hierdie fees het vooruit gewys na die opstanding van Jesus Christus as die eersteling wat opgewek is uit die dood, en daardeur die hoop op die opstanding vir alle gelowiges. “Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het. Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word.” (1 Korinthiërs 15:20,22)

  • Jesus het letterlik opgestaan uit die graf op die dag van die Fees van die Eerstelinggerf.

  • Mattheus 27:52, 53 vertel van ‘n spesiale opstanding tydens die kruisiging van Jesus. Hierdie mense het na Jesus se opstanding uit die grafte uitgegaan en aan baie mense verskyn. Hulle was die eerstelinge onder die kinders van God wat uit die dood opgewek is.

  • Vandag  vier ons die opstanding van Christus deur die doop en deur die voetewassing voor die nagmaal. “Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook in die nuwe lewe kan wandel.” (Romeine 6:4) Sien Johannes 13 vir meer inligting oor die voetewassing.

 

4. Pinkster (Shavu’ot)

  • “Dan moet julle tel van die dag na die sabbat, van die dag af as julle die beweeggerf bring – sewe volle weke moet dit wees; tot die dag na die sewende sabbat moet julle vyftig dae tel; dan moet julle ‘n nuwe spysoffer aan die Here bring.” (Levitikus 23:15,16)

  • Die Griekse woord pentēkostē beteken letterlik ‘vyftigste’, omdat die Pinkster fees vyftig dae na die Paasfees gevier is. Dit word ook die Fees van Weke genoem, omdat die fees presies sewe weke en een dag na die Fees van die Eerstelinggerf plaasgevind het.

  • Die Pinkster Fees was een van die drie pelgrimsfeeste waartydens die manne verplig was om ‘n pelgrimsreis na Jerusalem te onderneem. Dit is gevier op Sivan 6-7 en het die aanvang van die somer oes aangedui. Die Pinkster Fees het in die middel gestaan van die eerste drie en die laaste drie feeste.

  • Die Pinkster Fees het vooruit gewys na die groot oes van siele wat sou plaasvind as gevolg van Christus se bediening.  In Handelinge 2 vind ons die eerste vervulling van hierdie belofte, asook van Jesus se belofte om die Heilige Gees te stuur om met Sy kinders te wees.

  • Die Christelike kerk is tydens Pinkster gestig en drie duisend mense is tot die kerk toegevoeg as gevolg van Petrus se eerste verkondiging van die Evangelie.

  • By die Wederkoms, wanneer Jesus se engele Sy “uitverkorenes [sal] versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan.” (Mattheus 24:31) sal die finale oes ingesamel word wat Christus se kinders help saai het.

 

​5. Trompette Fees (Yom Teru’ah)

  • “In die sewende maand, op die eerste van die maand, moet dit vir julle ‘n rusdag wees, ‘n gedenkdag deur basuingeklank, ‘n heilige vierdag.” (Levitikus 23:24)

  • Die Hebreeuse woord vir trompet is ‘shôphâr’.

  • Hierdie fees is vir een dag gevier, op Tishri 1. Die Trompette Fees is die eerste van die herfs feeste.

  • Trompette is tradisioneel gebruik om belangrike aankondigings te maak. Hier word vooruitgekyk na die aankondiging van Jesus se wederkoms.

  • Ons vind weereens bevestiging in die Nuwe Testament: Lees 1 Korinthiërs 15:52 en 1 Thessalonicense 4:16.

  • Nou, terwyl daar nog tyd is, moet ons die Evangelie uitbasuin sodat die mensdom gereed kan wees om in die oordeel voor die Regter te staan. “Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.” (2 Korinthiërs 5:10) En dit bring ons by Yom Kippur, die Versoendag.

 

6. Versoendag (Yom Kippur)

  • “Maar op die tiende van hierdie sewende maand is dit die versoendag. ‘n Heilige vierdag moet dit vir julle wees; dan moet julle jul verootmoedig en aan die Here ‘n vuuroffer bring.” (Levitikus 23:27)

  • Hierdie was streng gesproke nie ‘n fees nie, maar ‘n vasdag en ‘n dag van verootmoediging – dit is net vir 1 dag gehou, op Tishri 10.

  • Die Versoendag het gedien om die Volk aan Christus se versoenende werk as Hoë Priester en aan die daaropvolgende oordeel te herinner.

  • Om die betekenis van die versoendag te verstaan, moet ons weer na die heiligdom terugkeer en bestudeer wat elke jaar daar gebeur het. Op die laaste dag van die jaar, die Versoendag, is die Heiligdom simbolies gereinig van sonde. Hierdie was ‘n simbool van die oordeel.

  • Diegene wie se sondes nie in die loop van die jaar op die Heiligdom geplaas is nie, is ‘afgesny’ van die res van die Volk. (Levitikus 23:27-32) Die volk en die priester moes vooraf hulle harte ondersoek en met rituele reinigingsprosesse hulself  reinig om voor die Allerhoogste te verskyn.

  • Vandag verwag God dieselfde van ons terwyl ons die Wederkoms verwag. “Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?” (1 Petrus 4:17)

  • Levitikus 16:8-10 verduidelik die reiniging van die Heiligdom baie mooi. Twee bokke is benodig - een vir die Here en een vir Asasel (Satan). Die bok vir die Here is geslag en sy bloed is ingedra na die Allerheiligste en gesprinkel op die versoendeksel - simbolies van die onskatbare prys wat Christus sou betaal vir die wêreld se sondes. 1 Petrus 1: 19; Handelinge 8:32 en Openbaring 6:16 vertel hoe Christus se bloed ons reinig en Sy offer ons weer in versoening met God bring. Hy het ons skuld betaal en die Volk van Israel is reeds vooraf geleer dat versoening deur die bloed van Jesus bewerkstellig moet word. Dit het gewys hoe gretig God was en steeds is om te versoen met die sondaar. (2 Korinthiërs 5:18, 19) Sodoende is reiniging en versoening simbolies tussen God en die Volk bewerkstellig. (Levitikus 16:16-20)

 

Die hoëpriester as voorspraak, wat Christus gesimboliseer het, het dan die bloed op homself gesprinkel en sodoende die sonde tydelik op homself geneem net soos Christus ook die wêreld se sondes tydelik op Homself geneem het op Golgota. Die sonde is dan oorgeplaas op die sondebok - (Levitikus 16:8 - Asasel se bok) wat die Satan aan die einde van tyd verteenwoordig, deurdat die Priester sy hande op die bok se kop geplaas het. Die bok is dan uit die kamp uitgelei en in die woestyn doodgemaak. So is die sonde dan simbolies uit die kamp verwyder en is die Heiligdom gereinig. (Levitikus 16:16-22 en 30-33) Wanneer die finale oordeel eendag voltrek sal word, sal al die skuld vir die sonde van die wêreld ook so op Satan geplaas word, en die rekord van alle sondes sal vir eens en altyd uit die hemelse heiligdom verwyder word.

  • “Daarom geliefdes, terwyl julle al hierdie dinge verwag, beywer julle dan dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede.” 2 Petrus 3:14)

 

7.  Hutte Fees (Sukkot)

  • “Op die vyftiende dag van hierdie sewende maand is dit sewe dae lank die huttefees vir die Here.” (Levitikus 23:34)

  • Die Hutte Fees is oor ‘n tydperk van sewe dae, op Tishri 15-22 gevier en was ook ‘n pelgrimsfees.

 

Belangrike gebeure in die Bybel het op hierdie dag plaasgevind:

  • Salomo se tempel is tydens hierdie fees toegewy. (1 Konings 8:2) NOTA: Die sewende maandword hier Etanim genoem. Na die ballingskap van die Jode is die maand Tishri genoem.)

  • Dit is ook tydens die Huttefees dat die Volk wat uit ballingskap teruggekeer het, vergader het by die tempel vir die voorlesing van die Wet deur Esra. Hierdie voorlesing het gelei tot ongekende herlewing onder die Volk. (Nehemia 8)

  • Jesus het tydens die Huttefees verklaar: “En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.” (Johannes 7:37,38)

  • Die Huttefees is tradisioneel gevier om die uittog uit Egipte te gedenk. Tydelike skuilings gemaak van groen takke en blare is opgerig en ‘n atmosfeer van vrolikheid het oral geheers. (Lees Levitikus 23:40-43) Aan die einde van die oestyd, het die Volk in dankbaarheid teruggekyk na hoe die Here weereens voorsien het, net soos Hy vir 40 jaar in die woestyn vir hulle voorvaders voorsien het.

  • Die Huttefees moes die Volk opnuut bewus gemaak het dat ons net tydelike bewoners op hierdie aarde is en dat ons liggame ook net tydelike tentwonings is. (2 Korinthiërs 5:1-4) Deur die geloof het Abraham “in ‘n vreemde land en in tente gewoon…want hy het ‘n stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is.”  (Hebreërs 11:9,10) Jesus het belowe dat Hy vir ons ‘n plek gaan berei in die Hemel (Johannes 14:1-3). In geloof wag ons reikhalsend uit na Sy koms.

  • Nog ‘n pragtige vervulling van die Huttefees in die Nuwe Testament, is die eerste koms van Christus na die aarde. Johannes stel dit so mooi: “En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon…” (Johannes 1:14) Die Grieks sê Hy het by ons ge-“tabernakel” of “in ‘n tent gewoon” (die Griekse woord is skēnoō) soos God in die tabernakel gewoon het by die Volk. (Eksodus 25:8 en 29:45)

  • Die mooiste belofte verbonde aan die Huttefees gaan eers vervul word op die Nuwe Aarde, waar Jesus belowe dat God self by ons sal “tabernakel”. (Openbaring 21:3) Dieselfde Griekse woord, skēnoō, word  weer hier gebruik. Dit is die finale vervulling van ‘Immanuel – God met ons’ – vir ewig en altyd!

 

C. Die Ou Testamentiese Feeste en die Moderne Christen

  • Vraag: Daar staan tog in die Bybel die Paasfees (en daarmee saam die fees van die Eerstelinggerf) “is ‘n ewige insetting vir julle geslagte in al julle woonplekke.” (Levitikus 23:14) Is ons nie daarom verplig om dit steeds vandag te vier nie?

  • Antwoord: Ons vier beslis vandag nog die dood en opstanding van Jesus Christus soos versinnebeeld in die Paasfees en fees van die Eerstelinggerf deur die NAGMAAL. En ons doen dit op aandrang van Christus self. (1 Korinthiërs 11:26)

 

  • Vraag:  Hoekom het Paulus na Jerusalem gegaan om van die feeste by te woon? (Handelinge 18:20,21)

  • Antwoord: Hy het hierdie geleenthede gebruik om met die Jode te gesels oor die einste Messias waarna die feeste vooruit gewys het. “Vir die Jode het ek soos ‘n Jood geword om die Jode te win…” (1 Korinthiërs 9:20)

 

Tydens die vergadering te Jerusalem is die vraag deur die Apostels bespreek of die besnydenis en die onderhouding van die wette van Moses (seremoniële wette) steeds verpligtend was. Die uiteinde van hulle beraadslaging was onomwonde: “Nou dan, waarom versoek julle God deur op die nek van die dissipels ‘n juk te lê wat ons vaders en ook ons nie in staat was om te dra nie? Want die Heilige Gees en ons het besluit om verder geen las op julle te lê nie as hierdie noodsaaklike dinge: (i) dat julle jul onthou van afgodsoffers en (ii) van bloed en van wat verwurg is en (iii) van hoerery. As julle jul hiervan onthou sal julle goed doen.” (Handelinge 15:10, 28-29) Al Ou Testamentiese regulasies wat dus behoue gebly het (buiten die onderhouding van die Tien Gebooie) was dus die weerhouding  van afgodediens, die gesondheidswette en volgehou morele gedrag. Lees ook Mattheus 23:4.

 

  • Vraag:  Wat beteken Tipologie?

  • Antwoord: In die Ou Testamentiese tipologie word sekere simboliek gebruik om belangrike konsepte te verduidelik an Israel. Die anti-tipe is dan die vervulling van hierdie simboliek.

 

Voorbeelde:

Lam= Christus

Hoëpriester in die aardse tabernakel = Christus, ons Hoëpriester wat leef om vir ons in te tree (Hebreërs 7:25)

Die tafel van toonbrode in die tabernakel = Jesus, die Brood van die Lewe

So het al die feeste ‘n aspek van die Verlossingsplan vir die Isrealiete gesimboliseer. Paulus verduidelik dit baie goed in Kolossense 2:15, 16 waar dit na die fees-sabbatte en seremoniële wette met al hulle offers verwys as “’n skaduwee van die toekomstige dinge...”

Paulus verwys ook na die wette wat handel oor die sermonies en insettinge wat vooruit wys na Christus en Sy plan van verlossing, as “die wet van gebooie wat in insettinge bestaan…” (Efesiërs 2:14,15) Hierdie wette het skeiding veroorsaak tussen die  Jode en die nie-Jode en Christus het daardie skeidsmuur kom afbreek deur Sy bedienng op aarde. Dit is hoekom die voorhangsel van die tempel van bo na onder geskeur is en die Allerheiligste van die Tempel ontbloot is aan almal tydens die kruisiging van Jesus. (Mattheus 27:51, Lukas 23:45) Dit het juis gebeur in die tyd tydens die Paasfees wanneer die Paaslam geslag en geoffer sou word in die tempel. Hiermee het tipe die anti-tipe ontmoet. Lees Hebreërs 9:9-14.

 

  • Vraag:  Is dit ‘n sonde om steeds vandag die feeste te vier?

  • Antwoord: Nee dit is nie ‘n sonde om die feeste te vier  nie, maar dit is nie ‘n vereiste vir ons verlossing nie, en dit dien geen doel nie.  Paulus maak dit duidelik dat ons mekaar nie moet oordeel nie: “Die een ag die een dag bo die ander, die ander ag al die dae gelyk. Laat elkeen in sy eie gemoed ten volle oortuig wees.” (Romeine 14:5) Hierdie verwys spesifiek na die feestye van die Ou Testament en nie na die Sewende-dag Sabbat nie.

 

Doug Bachelor verduidelik die saak so: Jou geliefde gaan op ‘n lang reis en jy weet jy gaan hom vreeslik mis. Hy gee daarom vir jou ‘n pragtige geraamde foto van homself voor hy vertrek en jy plaas dit op ‘n ere plek in die huis. Jy soen gereeld die foto en dink elke keer aan jou geliefde as jy dit sien.

Op ‘n dag is daar ‘n klop aan die deur: Jy maak die deur oop en daar staan jou geliefde! “Wag net gou!” sê jy en hardloop om die foto te gaan haal. Jou geliefde staan met uitgestrekte arms en wag vir ‘n blye omhelsing, maar jy druk die foto styf teen jou vas en soen die gesig wat onder die glas is met oorgawe. (Ek sien hier die hartseer beeld van Christus soos in Jesaja 65:1, 2 geskilder.)

Tog belaglik, nê! En tog is dit presies wat ons doen wanneer ons die feeste – wat tipologies vorentoe wys na Christus en Sy werk vir ons verlossing  – steeds wil vier NADAT die ware Jakob, die anti-tipe, reeds die taak suksesvol afgehandel het.

Lees 2 Korinthiërs 3:13-15. Dit verduidelik hoe die Israeliete (en selfs sommige Christene) vandag nog na die wet van Moses (eerste 5 boeke van die Bybel) luister sonder om werklik God se werk te verstaan. Na sy opstanding het Jesus sy dissipels en die Emmausgangers se oë geopen toe Hy vir hulle die dinge in die  Ou Testament verduidelik het wat op Hom en Sy verlossingswerk betrekking gehad het. “En Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het.” (Lukas 24:27) Lees ook verse 44-47. Vandag sal die Heilige Gees ons help om dit te verstaan as ons onsself oopstel vir Sy leiding.

 

  • Vraag: Jesaja 66: 23 vertel dat ons in die Hemel en op die Nuwe Aarde steeds die die Here sal aanbid tydens die Fees van die Nuwe Maan.

  • Antwoord: Die Nuwe Maan Fees was een van die minder belangrike fees en is selfs later tot semi-fees status verlaag. Die Nuwe Maan Fees is gebruik om die nuwe maand in te huldig, maar het reeds teen die 4e eeu as ‘n fees verdwyn uit die Joodse tradisie. Hierdie verse  beklemtoon eerder die kontinuiteit van ons anbidding, m.a.w. dat ons maand na maand, en week na week sal voortgaan om die Here te aanbid op die Nuwe Aarde.

 

Die Ou Testamentiese Feeste was deel van die ou Verbond. Toe Christus ‘n Nuwe Testament, of Nuwe Verbond gesluit het, het Hy vir ons ‘n hele rits nuwe dinge gegee om die ou dinge te vervang:

  • ‘n Nuwe Verbond geskoei op beter beloftes - Die beloftes van God en nie die leë beloftes van die mens nie. Lees Hebreërs 8:8-13

  • Nuwe offers: Daniël 9:27 beklemtoon dat die offerstelsels van die Ou Testament sou ophou in die tyd wat Jesus gekruisig is. Hy was immers die Lam wat geoffer is vir ons sondes. Nou versoek Hy ons om “jul liggame te stel as ‘n lewende en aan God welgevallige offer…” (Romeine 12:1)

  • ‘n Nuwe tempel: Ons liggaam is nou die tempel van die Heilige Gees. (1 Korinthiërs 6:19,20) Hierdie liggaam stel my eie liggaam sowel as die Kerk van die Here voor.

  • ‘n Nuwe Nasie: Geestelike Israel is nou die kinders van die belofte, en nie net letterlike Israel nie. (Galasiërs 3:7,28,29; Romeine 2:28,29)

  • ‘n Nuwe soort besnydenis: Romeine 2:29 praat van ‘n besnydenis van die hart wat in gehoorsaamheid manifesteer. Sien ook 1 Korintiërs 7:19.

  •  ‘n Nuwe Priesters-amp: Christus self vervul nou in die Hemel die taak wat aardse, sondige priesters eens moes doen. Lees Hebreërs 4:14-16 en 7:26-28. Elke individu moet ook die priesterlike rol vervul deur heilig vir die Here te leef en in te tree vir ons medemens. (1 Petrus 2:9,10)

 

Waarom sal ons weer wil teruggaan na dié dinge wat maar net “’n skaduwee van die toekomstige dinge...” is, as ons verlossing reeds deur Jesus Christus bewerkstellig is?

“Want die wet, wat ‘n skaduwee het van die toekomstige weldade, nie die beeld self van die dinge nie, kan nooit deur dieselfde offers wat jaar na jaar gedurig gebring word, die wat toetree, tot volmaaktheid lei nie…. Hy neem die eerste weg om die tweede te stel… Want deur een offer het Hy vir altyd volmaak die wat geheilig word.” (Hebreërs 10:1, 9, 14)

Video: Should Christians Keep the Feast Days - (Doug Batchelor)​

 

Gaan na die volgende studie:

bottom of page