top of page
denominasies.jpg

Hoekom Soveel Verskillende Denominasies?
 

Die Geskiedenis en Verval van die Christelike Kerk:

Toe God die aarde geskep het, was Sy droom vir die mens een van samehorigheid, geluk en vrede. Hy het beoog om hulle Koning te wees en om in liefde die mensdom te regeer. Maar Satan het reeds in Eden ‘n speek in die wiel gesteek toe hy vir Eva laat twyfel het aan God se regverdigheid. Hy het daar die eerste saadjies  geplant vir hardkoppigheid en twyfel. Kyk wat sȇ die wyse Salomo hieroor: “Kyk, net dit het ek uitgevind: dat God die mens reg gemaak het, maar hulle het baie slim planne gesoek” (Prediker 7:29).

Die geskiedenis en profetiese vooruitskouing van die Christelike kerk is opgeteken in die Bybel om vir ons ‘n les en waarskuwing te wees. Ongeveer ‘n duisend jaar na die sondeval het die mens so verdorwe geword, dat God die aarde moes skoon was. Net agt mense het oorgebly. Die verhaal van die mens se agteruitgang is aan ons bekend. By die toring van Babel het die mens sy vasbeslotenheid getoon om te leef soos hy wil. Viir die doel van hierdie studie begin ons met die geskiedenis van God se kerk te volg in die woestyn. Daar het God ‘n klein volkie gekies om sy ambassadeurs te wees tussen die heidense nasies wat ontstaan het as gevolg van die mens se hardnekkigheid by Babel. “Want jy is ‘n volk heilig aan die Here jou God; jou het die Here jou God uitverkies om uit al die volke wat op die aarde is, sy eiendomsvolk te wees. Die Here het ‘n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke” (Deuternomium 7:6, 7).


Israel het opdrag gekry om nie betrokke te raak met die heidene se leefstyl en afvallige aanbidding nie, maar dit was nie lank nie, of hulle het hulle ooreenkoms met die Here verbreek en net soos die heidene begin leef. Hulle wou selfs ‘n aardse koning hȇ net soos die heidene. Die Ou Testament is die verhaal van ‘n liefdevolle God wat sy afvallige kinders probeer terugwen op elke moontlike manier. Ongelukkig het dit nie gewerk nie, want die volk was te hardkoppig. Paulus deel met ons in Hebreërs 4 die hartseer uiteinde van Israel se hardkoppige ongehoorsaamheid: “…die woord van die prediking het hulle nie gebaat nie, omdat dit by die hoorders nie met die geloof verenig was nie…” (Hebreërs 4:2). Paulus vertel verder: “Maar van Israel sȇ Hy: Die hele dag het Ek my hande uitgebrei na ‘n ongehoorsame en ‘n teësprekende volk… As ek tog maar net my eie volk jaloers kan maak en sommige uit hulle kan red!” (Romeine 10:21; 11:14). Israel het die voorreg verbeur om God se eiendomsvolk te wees. Hulle het nie net vir God verwerp nie, maar ook hulle Verlosser met Wie hulle goed bekend was deur die hele seremoniële aanbiddingstelsel wat Hom en Sy plan van verlossing so mooi uitgebeeld het. Vir die individue in Israel wat steeds aan die Evangelie gehoorsaam wou wees, het God egter ‘n geleentheid gegee om die saak met Hom reg te maak: “Maar ook hulle sal, as hulle nie in die ongeloof bly nie, ingeënt word [in Christus en sy Kerk]; want God is magtig om hulle weer in te ent ” (Romeine 11:23).

Die einste man wat aanvanklik die volgelinge van Christus vervolg het, het opdrag ontvang om nou na die nie-Jode te gaan om hulle vir die Evangelie te wen. Lees meer hieroor in Paulus se prediking aan die Jode in Handelinge 13:16-45. Die Jode het hulle weereens verset teen die uitnodiging om Jesus as hulle Verlosser aan te neem, en daarom moes Paulus die hartseer nuus aan hulle oordra: “…Dit was noodsaaklik dat die woord van God aan julle eers verkondig moes word. Aangesien julle dit egter verwerp en julle self die ewige lewe nie waardig ag nie – kyk, ons wend ons tot die heidene” (Handelinge 13:46). En so is Christus se opdrag vervul: “... en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samarìa en tot aan die uiterste van die aarde” (Handelinge 1:8).

Openbaring Bevestig die Vroeë Christelike Kerk se geskiedenis:


In Openbaring hoofstukke 2 en 3, vind ons sewe briewe wat geskryf is aan verskeie gemeentes van die jong Christelike kerk. Alhoewel hierdie briewe aan spesifieke gemeentes gerig is, bevat hulle eienskappe wat God raakgesien het in al die Christelike kerke.  Die gemeentes verteenwoordig ook verskillende eras van die Christelike kerk se geskiedenis. Eienskappe van hierdie kerke kan natuurlik steeds vandag aangetref word in die Kerk, maar die geskiedenis boeke bewys dat die geskiedenis van die Kerk mooi saamgevat is deur hierdie sewe briewe.

1.    Die Gemeente van Efese
Hierdie gemeente stel die tydperk van die Apostels tussen 31 nC tot ongeveer 100 nC voor. Die gemeente in Efese se verhouding met hulle Verlosser het reeds binne die eerste dekades na Sy hemelvaart begin verflou. “Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het” (Openbaring 2:4).  Reeds in hierdie vroeë eeu, het daar afvalligheid en misleiding begin kop uitsteek in die kerk. Die Nikolaїte was ‘n groep mense binne die kerk wat hulleself as volgelinge van een van die eerste sewe diakens, Nikoláüs, beskou het. Dit is altyd gevaarlik om ‘n mens aan te hang. Ons moet eerder volgelinge van Jesus wees. Die Nicolaïte het ‘n boodskap van geestelike “vryheid” verkondig en gevolglik sedeloos en losbandig geleef.  So dikwels vind ons dieselfde siening in sommige moderne kerke. Ek kan leef soos ek wil en doen wat ek wil – solank ek maar net glo in Jesus. Hierdie sienswyse is teenstrydig met dit wat die Evangelie leer.

Paulus het in hierdie tyd die volgende geskryf: “Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan” (Handelinge 20:29, 30). Wat ‘n skokkende gedagte! Uit die geledere van die jong Christelike kerk, sou daar mense wees wat doelbewus sou poog om mede-gelowiges te mislei vir eie gewin. En hier vind ons die eerste bewyse van hoe Satan saadjies van misleiding in die Christelike Kerk sou saai. Net soos hy wantroue in God se woord gesaai het in Eva en Adam se gedagtes, doen hy dit steeds vandag op meesterlike wyse.

2.    Die Gemeente van Smirna
Die gemeente van Smirna verteenwoordig die Kerk gedurende ‘n tydperk van felle vervolging. Duisende Christene het in hierdie tydperk op brandstapels, in arenas en amphiteaters gesterf vir hulle geloof, omdat hulle onder andere nie die Romeinse keiser wou aanbid as ‘n god nie. Johannes profeteer in Openbaring dat die Christene in Smirna vir “tien dae lank verdrukking [sal] hê.” Indien ons die dag/jaar beginsel toepas, beteken dit dat hulle vir tien jaar intense verdrukking sou ervaar, en dit was ook so. Aangespoor deur onder andere die wrede Romeinse Keiser Diocletianus het Christene ongekende vervolging ervaar vir tien bloedige jare. Tussen 303 nC en 313 nC, het duisende hulle lewens verloor ter wille van die Evangelie. Hierdie vervolging het in 313 nC met die Edik van Milan tot ‘n einde gekom. Hiermee is godsdiens vryheid en toleransie vir die Christelike geloof deur die Romeinse ryk verseker. Soos ons sal sien, het Satan sy plan van aksie aangepas by die nuwe verwikkelinge wat eintlik net ‘n rookskerm was vir sy slinksheid.

Baie Christene het in hierdie tydperk gevlug na ander lande en so het die evangelie begin versprei onder volkere in afgeleë lande. Alhoewel vervolging en swaarkry moeilik is om te verduur, het dit ‘n louterende gevolg in die lewe van God se kinders en daarom moet ons dankbaar wees vir swaar tye. “Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat ook julle by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel” (1 Petrus 4:12, 13).

3.    Die Gemeente van Pergamus
Vanaf 313 nC tot ongeveer 538 nC, het die Kerk ‘n tyd van kompromie beleef, waartydens allerhande wȇreldse idees en gebruike ingebring is in die Kerk deur die staat. Hierdie was Satan se plan om die heidendom en die Christelike geloof te probeer vermeng. In 321 nC het keiser Konstantyn ‘n dekreet uitgereik wat mense verplig het om geen werk te verrig op die Sondag nie en dit tot ‘n Sabbatdag verklaar. Die Kerk het geen vinger verroer om hom teen te gaan nie en die pouse het mettertyd hierdie verandering van aanbiddings-dag afgedwing op die mense. So het die dag van aanbidding, sonder opdrag van God, verander van die sewende dag tot die eerste dag van die week. Christene het tot op hierdie stadium die Bybelse sewende-dag Sabbat gevier. Nou het hulle egter blindelings gevolg waar die Kerk/ Staat koalisie gelei het.

Net soos die valse profeet Bileam (Numeri 22 – 25) bereid was om die waarheid te verruil vir persoonlike gewin, was die Kerk van hierdie eeu bereid om valse leerstellings en gebruike in te bring in die Kerk om die Christelike geloof meer aanvaarbaar te maak vir die heidene. Vandag sien ons al hoe meer hoe moderne kerke wȇreldse gebruike en praktyke inbring in die kerk, om mense meer “gemaklik” te maak in die huis van God. Satan mag dalk meer gemaklik wees in die Kerk, maar God vind kompromie met die wȇreld onaanvaarbaar. “Niemand kan twee here dien nie; want óf hy sal die een haat en die ander liefhȇ, óf hy sal die een aanhang en die ander verag...” (Mattheus 6:24).

Satan se planne om die rein kerk van God te mislei het nou al hoe meer sukses begin toon. Wanneer Christene nie vas staan in hulle geloof nie, word hulle ‘n maklike teiken vir Satan. “Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord...” (Efesiërs 6:14a). Om die Waarheid te ken en te verstaan is ‘n puik wapen teen Satan se aanslae. Paulus skryf in 1 Timoteus 2:3, 4: “Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hȇ dat alle mense gered moet word en tot kennis van die waarheid moet kom.”

4.    Die Gemeentes van Thiatire en Sardis
Hierdie gemeentes stel die Donker Eeue en ‘n tydperk van Hervorming voor. Die tydperk wat deur die gemeente van Thiatire voorgestel word, verteenwoordig byna ‘n 1 000 jaar van afvalligheid in die Kerk, tussen 538 nC tot 1 565 nC. Die Bybel vergelyk die afvalligheid van die Kerk met die heidense Koningin Isébel wat geleef het in die tyd van Elia. Sy het teen God se wil met die Israelitiese koning Agab getrou. Isébel was daarvoor verantwoordelik dat die Volk van God afvallig geword het, omdat sy haar heidense praktyke aan hulle bekendgestel het.

In Openbaring 17:3 – 5 vind ons Isébel se geestelike eweknie: “Babilon, die moeder van die hoere.”  Kyk wat sȇ Johannes oor haar in hierdie verse: “En hy het my in die gees weggevoer na ‘n woestyn, en ek het ‘n vrou sien sit op ‘n skarlakenrooi dier, vol godslasterlike name, met sewe koppe en tien horings. En die vrou was bekleed met purper en skarlaken en versierd met goud en kosbare stene en pȇrels, en sy het in haar hand ‘n goue beker gehad, vol gruwels en die onreinheid van haar hoerery; en op haar voorhoof was ‘n naam geskrywe: Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde.” Hierdie “moeder van die hoere” stel Katolisisme voor en haar dogters is die Protestantse kerke wat haar steeds navolg omdat hulle nie volkome alle bande met haar verbreek het, deur die Bybel se waarhede na te volg nie. Hierdie kerke protesteer al lankal nie meer teen die “moeder van die hoere nie”. Die vroeë kerkvaders het tydens die Reformasie luidkeels geprotesteer teen die afvallige kerk. Baie het gesterf vir hulle geloof. Vandag is dit nie meer polities korrek om die “moeder” en haar dogters te identifiseer nie.

Gedurende hierdie donker tyd in die geskiedenis van die Christelike kerk, het flou maar kosbare liggies opgegaan om God se kinders te lei na die ware Lig. Hierdie tydperk, verteenwoordig deur die Gemeente van Sardis,  staan bekend as die tydperk van Hervorming of Reformasie en strek ongeveer van 1 565 nC tot 1 740 nC.  Die era van die Reformasie het eintlik reeds begin in die tyd van die Donker Eeue toe manne soos Huss, Jerome en John Wycliffe die lig van Waarheid laat skyn het in die donkerte van onkunde.
 
Die vaders van die Protestantse Reformasie het een vir een sekere groot waarhede uitgelig om die juk wat die Roomse aliansie van Kerk en Staat op die Christene se skouers geplaas het, stadig maar seker af te skud. Uit die geledere van hierdie kosbare manne van Geloof, het baie van die moderne denominasies ontstaan. Die hartseer van die saak is dat baie van die gelowiges net daar gestagneer het, en nie verder gesoek het vir meer lig in die Skrif nie. Sommige teologiese gedagtes was ook nie noodwendig korrek nie. Die goedgelowige Kerk het dit egter net so aanvaar sonder om hierdie goed-bedoelende manne se teorië te toets aan die Skrif. Dit het ongelukkig die norm geword in die moderne Kerk ook. Gelowiges aanvaar wat hulle predikante hulle leer en klou vas aan die kerk tradisies waarmee hulle grootgeword het sonder om dit te bevraagteken of te toets aan die Woord van God.

Belangrike Voorlopers tot die Reformasie en die Ontstaan van Hoofstroom Denominasies:


Vir die doel van hierdie studie word slegs ‘n paar van hierdie belangrike mense en hulle bydrae tot die Reformasie genoem. Hulle is ook die mense wat die meeste bygedra het tot die vorming van die hoofstroom denominasies wat ons vandag nog ken.

Johan Wycliffe (1328  -1384) staan bekend as die “Môrester van die Reformasie”. Hy was ‘n Engelse filosoof, teoloog en ‘n professor aan Oxford Universiteit. Wycliffe, ook ‘n Katolieke Priester, was ’n bekende opponent binne die geledere van die Katolieke kerk. Sy volgelinge was die Lollarde genoem en is vervolg deur die Pouslike gesag. Wycliffe het onder andere die volgende teengestaan in die Kerk:
-    Transubstansie (die gedagte dat die broodjie en die wyn tydens die Mis sogenaamd letterlik in die liggaan van Christus verander word)
-    Aanbidding van die “heiliges”
-    Die sakramente soos die Mis
-    Gebede vir die dooies en
-    Die selibate priesterskap of monnike orde.


Wycliffe het die vertaling van die Bybel in die plaaslike taal voorgestaan en word daarvoor gekrediteer dat hy die Nuwe Testament uit die Vulgaat na Engels vertaal het. Die Vulgaat is ‘n Latynse vertaling van die Bybel uit die 4de eeu. (Hierdie Bybel is deur Pous Damasus I aangevra en die grootste deel van die werk is gedoen deur die kerkvader Jerome.) Wycliffe se vertaling  staan bekend as die Wycliffe Bybel. Sy assistent, John Purvey en andere het die werk klaargemaak. Na Wycliffe se dood a.g.v. ‘n beroerte aanval in 1384, het die Pous opdrag gegee dat sy gebeente opgegrawe en verbrand word saam met sy geskrifte. John Wycliffe was een van die voorlopers vir die Protestantse beweging.

Martin Luther het die Protestantse beweging in alle erns afgeskop toe hy op 31 Oktober, 1517 95 geloofs-punte teen die deur van die kasteel kerk van Wittenberg, Duitsland gespyker het. Die Katolieke kerk, tot op hierdie stadium slegs minimaal geopponeer, is geskud tot in sy fondasie. Luther het geen aspirasies gehad om sy eie kerk te begin nie. Sy plan was ook nie om die Katolieke kerk te vernietig nie. Hy wou maar net die waarhede wat hy self pas ontdek het, deel met die hele Christendom. Hierdie is ‘n paar van sy teologiese sieninge:
-  Hy het die gebruik van aflate heeltemal teengestaan. Dit was die gebruik om geld te skenk aan die Kerk in ruil vir die versekering van verlossing, of die hoop dat jou geliefde wat in die vagevuur brand, “afslag” sou kry en gouer in die hemel sou kom. Die Kerk het hierdie geld hoofsaaklik gebruik om die Katedraal van St Peter in Rome te finansier.
-  “Sola Fide” – Verlossing is deur geloof alleen. Luther het geleer dat ‘n mens deur genade alleen, uit die geloof, en nie deur goeie werke nie, gered word.
-  “Sola Scriptura”, die Bybel en die Bybel alleen as bron van waarheid, was een van die belangrikste punte wat Luther gemaak het. Hy het Kerk tradisie verwerp as ‘n bron van waarheid.
-  Christene moes die voorreg gegun word om self die Bybel te lees in hulle eie taal, en moes nie daarvoor afhanklik wees van die Priester nie.
-  Luther het ook die selibate Priesterskap en alle selfkastyding teengestaan. Paulus skryf hieroor: “Maar die Gees sȇ uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete, wat verbied om te trou en gebied dat die mense hulle moet onthou van die voedsel wat God geskape het om met danksegging gebruik te word deur die gelowiges en die wat die waarheid ken” (1 Timoteus 4:1-3). (Laasgenoemde verwys onder andere na wanneer Christene gedurende die 40 weeksdae van “Lent” – vanaf Aswoensdag tot en met Pase, vas en belydenis doen vir hulle sondes. Hierdie is byna soos ‘n soort Christelike Ramadan.)


Die Lutheraanse Kerk het sy oorsprong in die leringe van Martin Luther, maar het nog baie van die traditionele katolieke aanbiddings-rites en voorwerpe oorgehou, soos die altaar, kandelare, die gebruik van die kruis in eredienste en die kleredrag en leierskap van biskoppe. Meeste van die Protestantse denominasies het groot gedeeltes van Luther se teologie aanvaar, waarvan erkenning aan die Skrif en verlossing deur genade uit geloof twee belangrike punte is. Alle Protestantse kerke het ook die Pousdom herken as die Antichris van Daniel, Openbaring en Thessalonicense.

Johannes Calvyn was ‘n tydsgenoot van Martin Luther. Hy was ‘n Franse teoloog en hervormer wat gewoon het in Geneva.
-  Soos Martin Luther, was Calvyn ‘n voorstander van ernstige Bybelstudie en het die Bybel as die enigste bron van waarheid en leiding beskou.
-  Kerk orde en kerkdissipline was deel van Calvyn se nalatenskap.
-  Calvyn het verkeerdelik geglo dat God alleen kon besluit wie gered sou word. Volgens hom het die mens nie ‘n sȇ in die saak nie. Dit word pre-destinasie genoem. Alle mense wat nie gekies is deur God nie, is automaties verlore.
-  Hy het geleer dat uitverkore Christene ‘n verantwoordelikheid het teenoor die Here om rein en reg te lewe as ‘n bewys van hulle verkiesing. Seks buite die huwelik, kaartspel, dans, vloek en dobbel is alles as ‘n sonde beskou.
-  Liedere moes hoofsaaklik slegs woorde uit die Bybel bevat. Die gebruiklike Psalms en gesange wat in vandag se drie susterskerke gesing word, is ‘n moderne weegawe hiervan.


Hoofstroom denominasies wat uit Calvyn se leringe ontstaan het, is die Nederduits Gereformeerde en suster kerke, die Afrikaanse Protestantse Kerk, die Reformed Church of America en die Presbyteriaanse kerk onder leiding van die Skotse teoloog, John Knox. Selfs die Quakers, ‘n vroeë evangeliese beweging onder leiding van George Fox is geïnspireer deur aspekte van die Hervormings-beweging wat Calvyn begin het.

Koning Henry VIII van Engeland, was beslis nie ‘n geestelike leier in die Reformasie nie, maar hy wou nie sy politieke mag en geld met die Pous deel nie en wou graag skei van sy vrou. Die Pous het natuurlik laasgenoemde nie goedgekeur nie. Koning Henry het toe sy eie kerk begin, naamlik die Anglikaanse kerk, of die Church of England. Die Britse monarg is tradisioneel steeds die hoof van die kerk soos in Koning Henry se tyd. Die kerk het baie van Luther se leringe aanvaar, veral die met betrekking tot verlossing en vergifnis van sondes. Soos die Lutherse kerk, is baie van hulle aanbiddings rites en die kleredrag en leierskap van hulle biskoppe steeds vergelykbaar met die Katolieke kerk. Anders as die eenvoudige Calvinistiese kerke, is hulle kerke ook praal-katedrale.  Die Anglikaanse kerk aanvaar Rede, die Skrif en Tradisie as bronne waaruit die mens God en die waarheid kan leer ken en verstaan.

John Wesley (1703 -1791) was ‘n Anglikaanse prediker, evangelis en teoloog. Hy was ook die leier van ‘n herlewings-beweging wat bekend gestaan het as “Methodism”. Die Metodiste Kerk het uit hierdie beweging ontstaan en is geskoei op die beginsel van dissipelskap in aksie as die metode van heiligmaking: “Do no harm.” “Do Good.” “Stay in love with God.” Hierdie is in ‘n neutedop die lewensreȇls van die Metodiste Kerk. Die afskaffing van slawerny was meestal deur die toedoen van John Wesly se Metodisme. Welsynswerk en gemeenskapswerk is tot vandag n belangrike deel van hierdie kerk. Die Metodiste Kerk glo dat die Skrif, Rede, Tradisie, sowel as Persoonlike Ervaring bronne is waaruit die mens vir God en die waarheid kan leer ken en verstaan. Die Pinkster beweging het uit die Metodiste kerk ontstaan agv die Metodiste leer oor heiligmaking en die werk van die Heilige Gees in hierdie proses. Moderne denominasies soos die Kerk van die Naserener, die Volle Evangeliese Kerk, die Heilsleer, die Apostoliese kerk en die Assemblies of God het ontstaan uit die Metodiste kerk. Die praat van “tale” word in baie van hierdie denominasies gebruik as ‘n bron van waarheid en persoonlike kommunikasie met God.

Die Baptiste kerk het sy oorsprong uit die Engselssprekende Christen gelowiges van Nederland tussen 1609-1612. John Smythe was die leier van die eerste gemeente in Engeland. Hulle het geglo in vrye keuse en dat jy nie ‘gebore’ word in ‘n denominasie nie. Gelowiges moes kies om Jesus te volg en moes daarom groot gedoop word. Die klem van die Baptiste Kerk is ‘n persoonlike verhouding met Jesus. Kerk struktuur is nie so belangrik nie. Meeste van die moderne nie-denominasie kerke wat ons vandag orals sien opspring, het uit die Baptiste kerk ontstaan omdat die meeste glo in vrye keuse, ‘n persoonlike verhouding met Jesus en die groot doop. Vanweë hulle siening dat persoonlike ervaring ook beskou kan word as ‘n bron van waarheid, vind ons dat baie van hierdie nie-denominasie kerke ook glo in die praat van “tale”.
 
5.    Die Gemeente van Filadelfia in teenstelling met die Gemeente van Laodicea
Die Gemeente van Filadelfia verpersoonlik ‘n tyd van ongekende herlewing in die Christelike kerk. Die tydperk wat hierdie Gemeente verteenwoordig strek ongeveer van 1740 nC tot 1844 nC. Twee groot natuur-tekens het gedurende hierdie tyd ‘n opskudding veroorsaak in Christelike geledere: Totale sonsverduistering of die sogenaamde “Donker Dag” van 19 Mei 1780, en die sterre-reën van 13 November 1833. Bybel studente het onmiddelik die woorde van Mattheus 24:29 en 30 onthou: “En dadelik na die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal die teken van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid.” Ongekende belangstelling het ontstaan in die profesië van Openbaring en Daniël. Hierdie was ‘n wȇreldwye herlewing en het Christene se fokus geskuif na die Wederkoms van Christus.

‘n Amerikaanse evangelis, William Miller het die sienswyse gehuldig dat Jesus op 22 Oktober 1844 sou kom, en het gretig gearbei om die boodskap te verkondig. Miller het sy sienswyse gebaseer op die profesie van Daniel 8 en 9 oor die 2 300 aandes en mores (Daniel 8:14). Hy het verkeerdelik geglo dat die reiniging van die heiligdom die Wederkoms voorgestel het en dat die Here die aardse heiligdom sou reining, m.a.w. die kerk op aarde. Die mense, afkomstig uit ‘n verskeidenheid gelowe, het hulle self “Adventiste” genoem omdat hulle die advent (of koms) van Jesus verwag het.

Toe Jesus nie in Oktober 1844 kom nie, was derduisende mense baie teleurgesteld. Hierdie gebeurtenis staan bekend as die “Great Disappointment”. Alhoewel baie mense in hulle teleurstelling hulle rug op die Here gedraai het, het daar, net soos dwarsdeur die geskiedenis van die wȇreld, getroue dissipels van Christus opgestaan en verder gesoek na antwoorde in die Woord. ‘n Groep jong mense, waaronder ‘n 16-jarige  meisie met die naam van Ellen Harmon, het besluit om ernstig te bid en Bybelstudie te doen. Hulle was oortuig dat William Miller die profesie van Daniel 8 verkeerd vertolk het en het deur Bybelstudie geleer dat niemand die tyd van Jesus se koms kon weet en voorspel nie. Hierdie getroue Bybel studente het mettertyd ou vergete waarhede in die Bybel ontdek wat reeds in die tyd van die Apostels aan die Christelike kerk bekend was. (Meer hieroor in ‘n volgende studie.) Waarhede soos die Wederkoms, die ware Sabbat, en ‘n hernieude begrip van die profetiese boeke van die Bybel – waaronder die profesie van die 2 300 aandes en mores in Daniël, het gelei tot herlewing onder groot groepe gelowiges. Maar Satan was nie gelukkig met hierdie toedrag van sake nie, en dit bring ons by die laaste tydperk van die Christelike Kerk.

Laodicea is die laaste gemeente wat die Christelike Kerk verteenwoordig voor die Wederkoms van Christus en strek vanaf 1844 nC tot en met die Wederkoms. Die selfvoldaanheid, arrogansie en traak-my-nie-agtige houding van die louwarm Kerk in hierdie laaste era is skokkend en in direkte kontras met die herlewing wat gedurende die vorige tydperk plaasgevind het – veral aangesien ons weet dat die Ondersoekende Oordeel reeds in 1844 nC begin het. “Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug. Want jy sȇ: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie, en jy weet nie dat dit jý is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie” (Openbaring 3:16, 17).

God het deur die eeue heen mense gebruik wat deur die Heilige Gees geïnspireer is om die lig van waarheid te laat skyn in ‘n donker wȇreld van onkunde en misleiding. Die Bybel-skrywers, Apostels en Dissipels van die vroeë Kerk, die toegewyde godsmanne van die Reformasie, die dapper Christene wat gemartel en gedood is terwille van die Waarheid, en moderne sendelinge wat hulle lewens toegewy het – en steeds toewy - in diens van God, is almal gelei deur die Heilige Gees om God se Kerk na oorwinning te lei. Net so gebruik Satan ook mense om sý bose werk te doen. Hy gebruik die louwarm houding van die moderne Kerk om allerhande onwaarhede die lig te laat sien sonder dat die apatiese Christen moeite doen om te kyk of hierdie sogenaamde waarhede ooreenkom met die Woord van God. Persoonlike ervaring, tradisie en die menings van slim mense het die plek ingeneem vir die “Sola Fide” en “Sola Scriptura” van die Reformasie. “Laat niemand homself mislei nie: as iemand meen dat hy wys is onder julle in hierdie wȇreld, laat hom dwaas word, sodat hy wys kan word; want die wysheid van hierdie wȇreld is dwaasheid by God... Die Here ken die gedagtes van die wyse mense, dat dit nietig is” (1 Korinthiërs 3:18, 19, 20).
 
As teenvoeter vir die geestelike herlewing wat plaasgevind het in die tydperk van die gemeente van Filadelfia, het Satan misleiding en leuens die lig laat sien wat miljoene gelowiges om die bos lei:

•    Die Latter Day Saint beweging, beter bekend as die Mormone Kerk, is is die 1820’w en 30’s gestig deur Joseph Smith in die staat van New York. Hierdie kerk se geloofsbeginsels sluit sommige van die hoofstroom Christelike leerstellings in, maar aanvaar ook ander religieuse geskrifte as bronne van waarheid, bv. The Doctrine and Covenents; The Pearl of Great Price  en The Book of Mormon. Na Smith se dood het die kerk versplinter onder verskillende leiers. Van die Mormone se geloofsbeginsels sluit in hulle ontkenning van die drie-eenheid; doop vir die dooies, seksuele reinheid, Bybelse gesondheids-beginsels, die heiliging van die Sabbat (Sondag) en in sommige gevalle, poligamie.

•    Die Johova Getuies het ontstaan in die 1870’s onder leiding van Charles Tazw Russel. Hulle is Adventiste, omdat hulle glo aan die spoedige koms van die Here. Russel het verkeerdelik voorspel dat die einde van die wȇreld in 1914 sou gebeur.

•    Die toekomsteologie van Futerisme (die idee dat die Antichris se verskyning nog ver in die toekoms is) en die toerie van vervolging ná ‘n geheime wegraping is in 1833 deur John Darby aangewakker. Futurisme was ‘n leerstelling wat alreeds in 1590 deur ‘n Jesuitiese preister, Francisco Ribera ontwikkel is as ‘n teenvoeter vir die Reformasie. Onthou, die Protestante van die Reformasie het almal verstaan dat die Pousdom die antchris is en dat hy reeds besig was met sy duistere werk.  

In 1995 het Tim leHaye en Jerry B Jenkins die Wegrapingsteorie geromantiseer deur dit in ‘n opwindende apokolyptiese avontuur-storieboek te beskryf wat later ‘n reeks van 12 boeke geword het. Die gewildheid die Left Behind reeks het gelei tot drie aksie-gevulde rolprente. Charismatiese en Pinkster kerke oral oor die wȇreld het hierdie valse leerstelling met oop arms verwelkom.  
 
•    Charles Darwin het in 1859 sy boek, On the Origin of the Species die lig laat sien. Die Evolusie leer het hiermee op die toneel verskyn en is aangeneem deur wetenskaplikes, regerings, skole en universiteite. Die Skeppingsleer mag nie meer verkondig word in skole en universiteite nie. Daar is selfs Christelike kerke wat hierdie dwaalleer probeer regverdig deur die Skepingsverhaal as ‘n storie af te maak. Hoe hartseer dat God se oproep tot ware aanbidding van die Skepper God so maklik verwerp word vir ‘n leuen. “En ek het ‘n ander engel in die middel van die Lug sien vlieg met ‘n ewige evangelie om te verkondig aan die bewoners van die aarde en aan alle nasies en stamme en tale en volke. En hy het met ‘n groot stem gesȇ: Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van sy oordeel het gekom; en aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het” (Openbaring 14:6,7).

•    Die Fox susters van Hydesville, New York, het in 1848 moderne Spiritisme bekendgestel. Volgens hulle kon hulle komminikeer met die dooies. Maggie en Kate Fox was maar 14 en 11 jaar oud onderskeidelik. Hulle Moeder het met die “geeste” gekommunikeer deur opdragte en vrae aan die “geeste” te stel waarop hulle met ‘n sekere aantal kloppe geantwoord het. Hierdie nuwe sataniese leerstelling het soos ‘n veldbrand versprei in die Christlike wȇreld. Vandag knip niemand ‘n oog wanneer flieks – veral Disney flieks wat op kinders gemik is, oop en bloot kommunikasie met die dooies promoveer nie. Die Christelike Kerk het vergeet dat God kommunikasie met die dooies verbied en dat die dooies niks weet nie. Lees hiervan in Levitikus 19:31; Jesaja 8:19 en Prediker 9:5, 6.

•    Die New Age beweging het in die 1970’s en 80’s op die toneel verskyn. Hierdie beweging het sy oorsprong in Oosterse mistisisme wat leer dat daar ‘n “derde oog” is wat verby die mens se verstand beweeg in ‘n geestelike realm. Elke individu is god en is as sulks onbeperk. Hierdie leerstelings is baie aantreklik vir Christene wat ontnugter geraak het met die dooie tradisionalisme van die Christelike kerk. Panteïsme, reïnkarnasie, humanisme en ‘n wedergeboorte van ‘n meer bewuste self (“enlightenment”) sonder ‘n Verlosser, is alles deel van hierdie geloof. Kristalle met magiese krag, joga, akupunktuur en die oproep van van gebeurtenisse uit jou “vorige” lewe, word gebruik om die staat van “verligting” te bereik.

Paulus beskryf die toestand van die mens in die tydperk van Laodicea: “Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af” (2 Timotheus 3:1-5).
“...want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle wend tot fabels” (2 Timotheus 4:2, 3).
In 2 Thessalonicense 2:10, 11 praat Paulus van mense wat verlore gaan “...omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo.

My dierbare mede-Dissipel van Jesus, mag ons nie in Satan se strikke beland nie. Mag ons nie ons eerste liefde verlaat en louwarm word nie. Kom ons hou ons oë op Jesus gevestig terwyl ons sy Woord ons lewensgids maak. Paulus vermaan die jong Timotheus: “Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening. ...verkondig die Woord; hou aan tydig en ontydig; weerlȇ, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering” (2 Timotheus 4:5, 2). Mag elkeen van ons hierdie vermaning ter harte neem terwyl ons wag op die Koms van ons Koning.

Opgestel uit die Woord van God deur Wilma van Tonder (Epos: radiantwilma@gmail.com)
 

Gaan na die volgende studie:

bottom of page