Doop Voorbereiding Studie 3: DIE SONDEVAL EN DIE WEDEROPRIGTING VAN DIE MENS- Deel 1
I. DIE AFVALLIGHEID VAN SATAN
Waar het sonde ontstaan? Kon dit verhoed gewees het? Hoekom bestaan sonde vandag? Hierdie is vrae wat beantwoord kan word. Daar hoef geen verwarring te wees nie. Wat sê die Bybel?
1. By Wie Het Sonde Ontstaan?
“Hy wat die sonde doen, is uit die duiwel, want die duiwel sondig van die begin af.” (1 Johannes 3:8). Lees ook Johannes 8:44, 45.
2. Het God Die Duiwel Geskape?
Daar is geen skriftelike bewyse dat God die Duiwel gemaak het nie. Alles wat God gemaak het was goed en volmaak.
3. Hoe Het Die Satan Dan Ontstaan?
“Jy was volkome in jou weë van die dag dat jy geskape is, totdat daar ongeregtigheid in jou gevind is.” (Esegiël 28:15). Hier word verwys na Lucifer, die aanvanklike leier van die engele in die hemel.
Nota: In hierdie hoofstuk word Lucifer met die Prins van Tirus vergelyk. Dit is ‘n profesie van die letterlike koning van Tirus, maar as jy noukeurig lees, sien jy dat dit ‘n wyer betekenis ook het, na aanleiding van verwysings soos: “Jy was in Eden, die tuin van God.” (Esegiël 28:13).
4. Wat Was Lucifer Voordat Hy Gesondig Het?
“Jy was ‘n gerub met uitgespreide vlerke wat beskut.” (Esegiël 28:14). In vers 16 word hy genoem ‘n “gerub wat beskut!” Vanweë sy status so na aan God se troon, blyk dit dus of hy ‘n leier onder die engele kon wees.
5. Wat Het Aanleiding Gegee Tot Satan Se Sonde, Opstand En Val?
“Hoogmoedig het jou hart geword oor jou skoonheid; jy het jou wysheid verderwe weens jou glans.” (Esegiël 28:1).
“Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van die nasies! En jy het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde. Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste!” (Jesaja 14:12 – 13).
Nota: Hier word Satan weer vergelyk met Babilon. Net soos God die ware Koning agter Israel se troon was, so was Satan die koning agter die heidense trone van Tirus en Babilon, en met tye het hierdie nasies en leiers die karaktertrekke van Satan weergegee.
6. Wat Het Gebeur As Gevolg Van Lucifer Se Afvalligheid?
“En daar het oorlog in die hemel gekom: Migael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer.” (Openbaring 12:7).
Nota: Die draak in Openbaring 12 stel Satan voor. Lees Openbaring 12: 9. Migael is een van Jesus se name. In Hebreeus beteken dit: Een wat soos God is. Ons lees ook in Daniël 10:13, Daniël 12:1 en Juda 9 van die benaming ‘Migael’.
7. Wat Was Die Uitslag Van Hierdie Stryd In Die Hemel?
“Hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie. En die draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp.” (Openbaring 12:8, 9). Dit stem ooreen met Lukas 10:18: “Ek het die Satan soos ‘n weerligstraal uit die hemel sien val.”
8. Waar Is Die Duiwel Nou?
“Daarom, wees verheug, o hemele en die wat daarin woon; wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het.” (Openbaring 12:12).
9. Is Hy Alleen Uitgesit Uit Die Hemel?
“...en sy stert het die derde van die sterre van die hemel meegesleep en hulle op die aarde neergegooi.” (Openbaring 12:4a).
Nota: In Openbaring word ‘sterre’ gebruik as simbool van engele of boodskappers.
10. Wat Doen Satan Nou Op Aarde En Hoe Doen Hy Hom Voor?
“Wees nugter en waaksaam, want julle teenstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu en soek wie hy kan verslind.” (1 Petrus 5:8). Satan soek vir moeilikheid. Hy sit nie geduldig en wag tot een van ons hom kom opsoek nie. Hy is honger vir siele.
“Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie.” (2 Korinthiers 11:14, 15). Satan en sy engele doen hulle voor as hemelse engele of dienaars van God en mislei so mense wat nie werklik die verskil tussen waarheid en valsheid ken nie. Lees ook Mattheus 24:24; 2 Thessalonicense. 2:7 -11 en Openbaring 16:14, waar ons gewaarsku word dat Satan aan die einde van tyd valse wonderwerke en tekens sal gebruik om ons te probeer mislei.
11. Watter Raad Gee God Vir Ons Om Ons Teen Satan Te Beskerm?
“Onderwerp julle dan aan God: weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.” Jakobus 4:7. Lees 1 Johannes 5:18; Hebreërs 12:4 en Efesiers 4:27.
“Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly.” Efesiers 6: 11 - 13. Lees tot vers 18.
Nota: Versoeking kom nooit van God nie. Wanneer ons volgens ons eie begeerlikhede lewe, gee ons vir Satan die kans om ons te versoek. Lees Jakobus 1:13, 14. God laat dit soms toe sodat Hy (en Satan en die engele) kan sien waar ons lojalitiete lê. Lees die verhaal van Job in Job 1 en 2. Maar God sal nooit toelaat dat die Satan versoekings op ons pad sit wat ons nie kan weerstaan nie: “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.” (1 Korinthiërs 10:13).
12. Wat Is Die Uiteinde Van Satan, Sy Engele En Diegene Wat Hulle Aan Die Kant Van Satan Skaar?
“Dan sal hy ook vir die aan Sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele.” (Matthéüs. 25:41).
Slotsom
Omdat Satan ‘n leuenaar en ‘n moordenaar is, is dit onveilig om hom te volg. Die Bybel is baie duidelik oor wat sy uiteinde sal wees. Satan sal graag soveel mense as moontlik met hom wil saamsleep, maar God is ‘n God van liefde “wat wil hê dat alle mense gered moet word en tot kennis van die waarheid kom.” (1 Timótheüs 2:4). Dikwels vang die duiwel ons met ‘n slap riem omdat ons nie die waarheid ken en dus nie kan onderskei tussen goed en kwaad nie. Lees Hosea 4:6. Die Bybel is die enigste bron van waarheid. Bestudeer dit en vra dat die Heilige Gees u sal lei in die waarheid terwyl u studeer. Lees 2 Timótheüs 3:16, 17; Johannes 16:13.
"…kies dan vir julle vandag vir wie julle wil dien.” (Josua 24:15)