Doop Voorbereiding Studie 17: God se Wette
Redding is uit Genade Alleen
• NIKS wat ons uit ons eie krag doen kan ons red nie. Ons is uit genade gered deur Jesus Christus. Dit is ‘n geskenk en kan nie deur goeie dade gekoop word nie. (Efesiërs 2:8, 9) Ek word dus nie gered omdat ek gehoorsaam is aan God se wette nie, maar alleen uit sy onverdiende genade.
• Ons goeie werke, of ons eie geregtigheid is soos besoedelde klere in teenstelling met God se reinheid. (Jesaja 64:6)
• As ons dus nie op ons eie werke vertrou nie, maar op Christus se verdienste, word ons geloof “tot geregtigheid gereken” (Romeine 4:4, 5).
• Dit beteken dat ons dan voor God kan staan asof ons nooit gesondig het nie, omdat ons bedek is met Christus Jesus se reinheid van karakter. (Sagaria 3:1-7)
Die Doel van die Morele Wet
Waar pas die Wet dan in hierdie prentjie?
• Die Bybelse definisie van sonde word gevind in 1 Johannes 3:4: “Elkeen wat die sonde doen, doen ook die wetteloosheid, want die sonde is wetteloosheid.” Maar nie net dit alleen nie. Jakobus 4:17 sê: “Wie dan weet om goed te doen en dit nie doen nie, vir hom is dit sonde.” Met ander woorde, as ek weet wat God van my verwag met betrekking tot enige saak, as ek weet wat die regte ding is om te doen in die lewe, en ek verhard my daarteen, sondig ek.
• Paulus sê dat die wet ons sonde vir ons uitwys. Dit is soos ‘n spieël waarin ons ons kyk om te sien of ons nog die beeld van God weerkaats. (Romeine 7:7 en Jakobus 1:21-25) Indien ek in daardie spieël kyk en sien dat ek besmet is met sonde, vertel die Wet vir my dat ek verdoem is en my na God moet wend vir genade. Ek moet dan ook oorgaan tot aksie om reg te stel wat ek verbrou het.
• Die Wet veroordeel my onmiddelik as ek oortree het en lê my die doodstraf op: “Want die loon van die sonde is die dood.” (Romeine 6:23)
• Maar dank God, vir genade!! “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” (1 Johannes 1:8. Lees 1 Johannes 2:1, 2 en ook Romeine 6:23).
• Die Wet lei my dus na Christus, sodat ek deur Jesus met God versoen kan word. (2 Korinthiers 5:20)
Wat is God se Maatstaf vir die Oordeel?
• Ons word gered deur genade, maar God se maatstaf of standaard vir die oordeel is Sy Wet: “Julle moet so spreek en so doen soos diegene wat deur die wet van vryheid geoordeel word.” (Jakobus 2:12)
• Hoekom noem God dit hier die wet van vryheid? Want die onderhouding van Sy Wet beskerm ons teen sonde en maak ons dus vry van die straf vir sonde asook van die slawerny waarin Satan ons wil verbind. (Romeine 6:16, 17)
• Die feit dat ons onder God se genade is, gee ons geensins die reg om net te leef soos ons wil nie. Inteendeel, genade help ons juis om goed en reg te leef. (Efesiërs 2:8-10) Genade red ons eers en lei ons dan op om goddelike lewens te lei. “Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe, terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus.” (Titus 2:11-13)
• As God se standaard vir die oordeel die Wet is, moet dit tog sekerlik ook Sy standaard wees vir ons lewens! Paulus bevestig dit in Romeine 6:14, 15.
• Verder sê hy God se wet is “heilig en die gebod is heilig en regverdig en goed.” (Romeine 7:12)
Watter Wet is aan die Kruis Vasgenael?
Maar is God se wet dan nie teen die kruis vasgenael en nietig verklaar nie? Nee!
• “En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het, en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael. Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of sabbat nie wat ‘n skaduwe is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus.” (Kolossense 2:16,17)
• Dit is die wet wat ‘n “skuldbrief teen ons, met sy insettinge ons vyandig was” (Kolossense 2:14) wat aan die kruis genael is. Die wet wat “’n skaduwee is van die toekomstige dinge.” (vers 17)
• Nou watter wet is dit dan? Dis die wet wat verband hou met spys offers en drank offers, met die feeste en en fees-sabbatte (NIE die 7de-dag SABBAT nie! Lees Levitikus 23:38. Hier word duidelik gesê dat die fees-sabbatte, al moes hulle gevier word soos die 7de-dag Sabbat, tog verskil van die 7de-dag Sabbat.)
• Die seremoniële wet het al die reëls en regulasies bevat vir die seremonies en feeste en offerstelsels (bv. spys en drank offers) wat Israel moes nakom sodat hulle kon verstaan hoe God se verlossingsplan werk.
• Die Offers:
- Die drankoffers is simbolies van die bloed van Jesus wat vir ons gestort sou word. Jesus praat self hiervan in Lukas 22:20. Paulus vergelyk homself met ‘n drankoffer in Filippense 2:17 en 2 Timotheus 4:6. Drank offers is ingesluit by die brandoffers en graan offers in die aanbiddingsdienste wat God ingestel het met die oggend en aand offers.
- Spysoffers was offers van graan, dikwels gebak, gebraai of gerooster in die vorm van ongesuurde brood. Dit was ‘n vrywillige betuiging van toewyding en dank aan God wat so getrou in die mens se behoeftes voorsien.
- Brandoffers was offers van beeste of kleinvee. Arm mense kon ‘n duif as offer bring. Hierdie was hoofsaaklik offers om boete te doen vir sonde en het simbolies versoening teweeggebring tussen die mens en God. Dit het die liggaam van Christus voorgestel wat vir ons geoffer sou word aan die kruis. Drank offers is dikwels saam met brandoffers aangebied, deurdat die drank gegiet is oor die vleis.
- Lees meer oor die offers in Eksodus 29:38-46; Numeri 15; Levitikus 1-5
Die Seremoniële Wette
• Dit was die voorskrifte wat te make gehad het met die aanbiddingstelsel in die Heiligdom. Alles in hierdie aanbiddingstelsel het vooruit gewys na die Messias wat sou kom en ook na die hemelse plan van verlossing vir die mens. Dit het voorskrifte ingesluit aangaande die offerstelsels, die feeste en hoe hulle gehou moes word, en die tabernakel dienste. Dit het ook bepalings ingesluit vir die priesters en hulle bediening in die tabernakel.
• Geskryf in ‘n boek deur Moses - Deuternomium 31:9, 24
• Langs die verbondsark gebêre - Deuternomium 31:26
• Tydelik, vleeslik en het niks volmaak gemaak nie - Hebreërs 7:12, 16, 19
• Het gewys na Christus, die volmaakte offer wat sou kom – Levitikus 4:27-35 en Johannes 1:29
• Is afgestel deur Christus met sy soendood - Efesiërs 2:15; Kolossense 2:14, 15. Sien ook Hebreërs 9:10. Die offerstelsel, feeste en seremoniële wette het ten einde gekom toe Christus se dood die sermoniële wette vervul het en die voorhangsel van die Allerheiligste deel van die tempel in twee geskeur is toe Hy sê: “Dit is volbring!”. (Mattheus 27:50, 51; Johannes 19:30) Nou was die aanbidding-stelsels wat vooruit gewys het na die Messias, nie meer nodig nie.
• Word nie gebruik as ‘n standaard vir die oordeel nie - Kolossense 2:16
• Die bepalings van die seremoniële wet het ook gedien om Israel te laat verstaan hoe God die sonde haat en wat dit Hom sou kos om ons te red.
Paulus se brief aan die Galasiërs handel spesifiek oor die verkeerde verwagting van die Jode wat dissipels van Christus geword het. Hulle het verwag dat nuwe Christene steeds die besnydenis en ander wette wat “skaduwees is van die tekomstige dinge” moes onderhou. Paulus spreek hom sterk daarteen uit. Ons vind verdere besprekings hieroor dwarsdeur die Nuwe Testament. ‘n Studie van die Ou Verbond en die Nuwe Verbond sal verdere duidelikheid gee hieroor.
Die Dekaloog, of Morele Wet
Kom ons kyk nou na die Morele Wet, wat ook genoem word die Dekaloog, die Getuienis (Eksodus 25:21, Eksodus 40:20, 1 Konings 8:9) of Tien Gebooie. Interessant genoeg, word hierdie wet elke Sondag voorgelees in die einste kerke wat sê dat dit nie meer geldig is nie.
• Gespreek deur God - Deuternomium 4:12, 13
• Geskryf deur God se eie vinger op twee kliptafels - Eksodus 31:18; Deuternomium 10:3, 4
• Binne-in die verbondsark gebêre - Deuternomium 10:1-5
• ‘n Ewige wet - Psalm 111:7, 8
• Dit is ‘n Geestelik wet.
• Deur die Wet verkry ons die kennis van sonde - Romeine 7:7-14; Jakobus 1:22-25
• Volmaak en heilig - Psalm 19:7; Romeine 7:12
• Onveranderlik - Mattheus 5:17-21; Lukas 16:17
• Dit is die standaard waarvolgens geoordeel sal word - Jakobus 2:12; Openbaring 22:14
Het God Sy Wet nietig verklaar?
Sommige mense meen dat God se Wet tot niet verklaar is en dat ons sekere van Sy Gebooie nie meer hoef te onderhou nie. Wat leer die Bybel ons in hierdie verband?
Mattheus 5:17 sê dat Christus nie gekom het om die Wet en die Profete te ontbind nie, maar om dit te vervul. Wat beteken dit?
• Die ’wet en die profete’ verwys na die boeke van die Ou Testament. Die eerste vyf boeke van die Ou Testament word ook die ‘Wet’ genoem, en die profetiese boeke wat volg word na verwys as die ‘Profete’.
• Die eerste vyf boeke van die Bybel staan ook as die Torah of Pentateuch (penta = 5) bekend, want dit is die boeke wat handel oor God se wette. Hierdie was die Bybel soos dit in Jesus se tyd daar uitgesien het. Die Nuwe Testament skrywers haal onophoudelik aan uit die Ou Testament, wat vir ons ‘n verdere aanduiding is dat die Ou Testament steeds geldig is.
• Die KONTEKS van Mattheus 5 handel oor die Dekaloog of Tien Gebooie. Dele van die Dekaloog word selfs aangehaal in verse 27, 28. Jesus verduidelik hier hoe die wet ons leer om reg te lewe.
• In Mattheus 22:35-40 word Jesus gevra wat die grootste of belangrikste gebod is. Hy antwoord dat LIEFDE die grootste gebod is: Liefde vir God en liefde vir my naaste.
• Die 10 gebooie kan verdeel word in twee dele:
- Onderhouding van die eerste 4 gebooie dui op my liefde tot God en die laaste 6 gebooie dui op my liefde vir my naaste. Byvoorbeeld, as ek my naaste liefet, sal ek nie steel of moor of lieg nie.
- Hierdie gedagte pas perfek in by Jesus se woorde in Johannes 14:15: “As julle My liefhet, bewaar My gebooie.” Wets-onderhouding toon dus my liefde en loyaliteit vir God. Ek verklaar onomwonde dat ek na Sy Beeld geskape is en wil wandel soos Hy gewandel het.
• Jesus sê in Mattheus 5:17 Hy het die Wet kom VERVUL. Sy reine lewe van liefde en gehoorsaamheid het vir ons kom wys hoe ons die Wet moet onderhou. Hy het betekenis aan Sy Wet kom gee.
• Let op wat Hy sê oor wetsonderhouding in Mattheus 5:18-20. Om te sê dat God die Wet kom nietig verklaar het, weerspreek totaal Sy opdrag hier in verse 18-20.
Onder die Wet, of Onder Genade?
Baie mense redeneer dat Israel van ouds onder die wet was en dat diegene wat na Christus se kruisiging gebore is, onder genade is. Dit sou darem baie onregverdig wees indien God verskillende vereistes gehad het vir ons redding! Die feit is dat Israel net soveel onder God se genade was as ons.
Inteendeel: Wanneer ons die aardse Heiligdom bestudeer wat Moses in die woestyn moes oprig, sien ons baie mooi hoe God se genade én Sy Wet hand aan hand gaan. Onthou hoe ons hierbo gelees het dat die Tien Gebooie BINNE in die Verbondsark geplaas is? Bo-op die Tien Gebooie was die Versoendeksel, of, die ‘Mercy Seat’ soos dit in Engels genoem is. (Eksodus 25:21, Eksodus 26:34, Eksodus 40:20) Hierdie “deksel van versoening” het gedui op die genade wat God ons vryelik skenk wanneer ons Sy Wet verbreek het en ons om vergifnis vra vir ons sonde. (Romeine 6:23)
Psalm 85:11 sê “Goedertierenheid en trou ontmoet mekaar; geregtigheid en vrede kus mekaar.” Die King James vertaling vertel dit soveel mooier: “Mercy and truth are met together; righteousness and peace have kissed each other.”
En God verwag dieselfde gehoorsaamheid van ons as van Israel. “Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou Sy gebooie; WANT DIT GELD VIR ALLE MENSE. Want God sal elke werk bring in die gerig wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg.” (Prediker 12:13, 14)
Is daar ander wette wat ons ook moet hou?
Ons kan drie kategorieë van wette onderskei in die Bybel:
1. Die Morele Wet of Tien Gebooie wat onveranderlik is en die basis is van God se regering. Inteendeel, dit is ook die basis van baie regerings dwars oor die aarde.
2. Die Seremoniële wette wat Israel se oë gerig het op die Verlosser wat sou kom, en hulle geleer het wat die geweldige prys vir sonde sou wees. Hierdie wette het ook die Volk geleer om heilig te leef. Nuwe-Testament Christene hoef nie meer hierdie wette te onderhou nie, want hulle het tot ‘n einde gekom met Jesus se kruisiging.
3. Siviele wette het te make met God se beginsels van hoe Sy volk se daaglikse doen en late bedryf moes word.
• Net soos Jesus tydens die Bergpredikasie die beginsels van Sy koningkryk uitgespel het, het Hy dit ook in die Ou Testament vir Sy Volk uitgespel deur siviele wette.
• In die Ou Testament is hierdie Siviele wette omskryf met die Israeliete se kultuur in gedagte. Ons moet egter steeds hierdie wette onderhou.
• Gesondheids-beginsels, higiëne, beginsels oor hoe ons mekaar in die sake-wêreld moet behandel, die huwelik en sake wat daarmee gepaard gaan, familie aangeleenthede en nog baie meer praktiese raad is vervat in hierdie beginsels.
• Levitikus, hoofstukke 11-15, 18-20 en groot dele van Deuternomium hanteer hierdie siviele wette. Ons kry ook in Spreuke en Prediker, sowel as in die Nuwe Testament baie verwysings na hierdie beginsels.
• Moderne Christene moet die beginsels van die Siviele wette handhaaf en nie volgens die letter daarvan leef nie. Dit beteken maar eintlik net dat ons die beginsels van hierdie wette moet aanpas by ons moderne samelewing en ons eie kultuur.
Buiten die Morele Wet en die Siviele wette is daar ook nog God se insettinge en verordeninge wat ons moet onderhou. Hierdie sluit onder andere Sy opdragte met betrekking tot die doop, nagmaal en voetewassing, die teruggee van God se tiende en gee van offergawes, sowel as die hantering van kerk-sake in.
Deur bostaande wette, insettinge en verordeninge te gehoorsaam, sal ons gelukkiger en veiliger leef en ook ‘n goeie voorbeeld wees vir die nie-gelowiges om ons. “Wees net sterk en vol moed, om nougeset te handel volgens die hele wet wat Moses, my kneg, jou beveel het; wyk daarvan nie regs of links af nie, sodat jy met goeie gevolg kan handel, oral waar jy mag gaan. Hierdie wetboek mag uit jou mond nie wyk nie; maar bepeins dit dag en nag; sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy in jou weë voorspoedig wees, en dan sal jy met goeie gevolge handel.” (Josua 1:7, 8)
Die Wet en die Sabbat
• Reg in die middel van die wet van God, staan die Sabbats-gebod. Dit is die enigste gebod wat ons herinner om dit nie te vergeet nie. En is dit nie treffend dat dit JUIS die een gebod is wat mense vergeet nie? “REMEMBER the Sabbath day to keep it holy.” (Eksodus 20:8) GEDENK die Sabbatdag. Hoe kan ek hierdie een gebod uitsny of ignoreer, as God duidelik sê ek moet dit nie vergeet nie?
• Jakobus 2:10 wys ons juis op die feit dat die HELE wet bindend is.
• In Openbaring 14:6, 7 lees ons van ‘n engel wat vlieg deur die lug met ‘n EWIGE boodskap wat gerig is aan die “bewoners van die aarde en aan alle nasies en stamme en tale en volke.” Wat is die opdrag? “Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van Sy oordeel het gekom; en AANBID HOM WAT DIE HEMEL EN DIE AARDE EN DIE SEE EN DIE WATERFONTEINE GEMAAK HET.” (Openbaring 14:7)
• Hierdie is ‘n dringende opdrag om ons weer terug te draai na ons Skepper! Die 4de gebod vertel onomwonde dat ons die Sewende-dag Sabbat moet gedenk OMDAT God die Skepper is.
• Sien u hier die verband tussen die Sabbat en die Wet? Die Wetgewer is ook ons Skepper en natuurlik is Hy ook die een wat ons HERSKEP. Daarom moet ons Hom vrees en eer gee. “Die beginsel van die wysheid is die vrees van die Here, en kennis van die Heilige is verstand.” (Spreuke 9:10; Lees ook Psalm 119:98-100)
• In die boek Openbaring doen God ‘n dringende beroep op die mensdom om weer terug te keer na die Skepper-God, wat ook ons Verlosser is. Hoekom hierdie dringendheid? Omdat Christus die enigste weg na die Vader is. Dit is Christus wat vir ons versoening teweeg bring met die Vader. Dit is Hy wat vir ons intree by God. Dit is Sy geregtigheid wat ons sondige natuur bedek sodat ons in die Vader se teenwoordigheid mag kom. En dit is Hy wat ons en die hele wêreld, die see en die waterfonteine geskape het.
“Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van Sy oordeel het gekom; en aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het” (Openbaring 14:7)