Doop Voorbereiding Studie 15: Die Hel
Dit is belangrik dat ons mooi verstaan wat en waar die “hel” is. Ons sien dikwels die “hel” as die “warm plek” of die plek waar God die goddelose straf. Dit is egter nie so nie.
Vraag: Waar en wat is die Hel?
Antwoord: Daar is ‘n paar griekse en Hebreeuse woorde wat as “hel” vertaal word in die Bybel.
1. Hades (Grieks) / She’ȏl (Hebreeus): Die graf, die plek waar die dode heen gaan. (Lees 1 Korinthiërs 15:55 ook in KJV Bybel, wat eintlik Hosea 13:14 aanhaal.) In Psalm 89:49 en Job 17:13 word aangedui dat beide die godvresende Job sowel as die goddelose na die She’ȏl (graf) gaan. Jesus het “ter helle neergedaal”, wat eintlik maar net beteken het dat hy in die die graf neergedaal het.
Die Griekse woord “Hades” word onder andere in Matthéüs 11:23, 16:18, en Openbaring 1:18 asook Openbaring 6:8 en Openbaring 20:13, 14 gebruik. Wanneer mens aan die “hel” dink as die doderyk, maak dit sin vir die “hel” of die doderyk / graf om in die poel van vuur gewerp te word, want Openbaring 21:4 herinner ons dat God alles nuut sal maak en dat daar nooit meer dood sal wees nie. Die Dood / doderyk /graf word vernietig saam met Satan en die goddelose! Wonderlike gedagte!
2. Tartaroo: (2 Petrus 2:4) Die diepste afgrond van Hades / om in die hel neer te werp.
Petrus skryf nie hier van ‘n plek van ewige foltering nie want die “engele wat gesondig het” word “in bewaring gehou” in die hel (tartaroo). Dit sou nie sin maak dat die sondige engele in die “hel” sou brand VOORDAT hulle vonnis voltrek word nie. As hulle vir die oordeel in bewaring gehou word, beteken dit mos dat hulle in aanhouding is totdat die vonnis voltrek word (amper soos om op “death row’ te wees in afwagting op die doodstraf). Indien die goddelose in ‘n voortdurende brandende hel aangehou sou word, beteken dit dat hulle in ‘n sekere sin ewige lewe sou ontvang net soos die regverdiges, slegs met ‘n verskil van lewensgehalte. Romeine 6:23 se pertinent dat die loon van die sonde die DOOD en nie die lewe is nie.
3. Hinnom (Hebreeus) of Gehenna (Grieks): Hierdie verwys na ‘n vallei naby Jerusalem waar die Jode in hulle afgods-dienende jare hulle kinders aan gode geoffer het. Hierdie vallei is derhalwe tot ‘n tipe stortings-terrein verdoem waar die liggame van booswigte, die afval van die stad, en karkasse gegooi is. Om die vreeslike reuk en verspreiding van pessiektes as gevolg hiervan te verhinder, is vure voortdurend aan die brand gehou in hierdie vallei. Die Jode het hierdie plek met weersin bejeen omdat daar altyd rook, vuur, en hordes krioelende wurms voorgekom het. Mettertyd het hierdie plek vir hulle ‘n embleem geword van die gevolge van sonde. Romeine 6:23: Die loon van die sonde is die dood. (Lukas 12:5, Jakobus 3:6; Matt 5:22, 29-30 en Markus 9:43, 45, 47 is onder andere skrifgedeeltes waar die word “Gehenna” gebruik word.)
Vraag: “… en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid.” (Openbaring 20:10b)
Hier klink dit of die goddeelose vir ewig sal gepynig word deur die brandende vuur wat God op hulle uitgiet. Is dit waarlik die geval?
Antwoord: Beswaarlik! God beplan om alles nuut te maak en die hele aarde te herskep soos dit oorspronklik was voor die sondeval. (Openbaring 21:5) Johannes sien ook in Openbaring 21:1 ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde wat God voorberei vir Sy kinders.
Die woorde van Openbaring 20:10 dui eerder op die absolute finaliteit van die tweede, of ewige dood. Lees die volgende verse om beter te verstaan wat die lot van die goddelose sal wees.
• Jesaja 66:24. Hier word gepraat van die LYKE van die goddelose, wat dui dat hulle nie ewigdurend gefolter sal word nie. Lyke is dooie mense, en nie kan dus nie verwys na mense wat steeds gefolter word nie. Dat die vuur nie uitgeblus sal kan word nie, is verseker. Net God sal daardie vuur uitblus wanneer elke sweempie van sonde vernietig is.
• Esegiël 28 :18 vertel dat Satan tot as gemaak sal word op die aarde - dit dui ook daarop dat die oordeelsvuur nie ‘n ewig-brandende vuur sal wees nie. Lees ook Sefanje 1:2,3 waar die Here die volkome uitwissing van die goddelose verduidelik.
• 2 Petrus 2:6 vertel dat die verbranding van Sodom en Gomorra tot as ‘n voorbeeld is van dit wat met die goddelose sal gebeur in die oordeel. Sodaom en Gomorra brand nie vandag nog steeds nie. Dit is egter vir ewig uitgewis. Die doel van die oordeel is nie bloot sodat God Hom kan wreek op die sondaar nie, maar eerder om vir eens en vir altyd elke teken van sonde uit te wis.
• Psalm 104:35 (..”die goddelose mense (sal) nie meer wees nie”)
• Psalm 37:20: Die goddelose “verdwyn soos rook, hulle verdwyn.”
• Maleagi 4:1: Die goddeloses sal brand soos stoppels “sodat dit vir hulle geen wortel of tak oorlaat nie.”
Vraag: Waar word die goddelose verbrand?
Antwoord: Jesaja 24:21 maak dit duidelik dat die goddelose op hierdie aarde verbrand sal word. “En in dié dag sal die HERE besoeking doen oor die leërskare van die hoogte in die hoogte en oor die konings van die aarde op die aarde” (Lees gerus hierdie vers in die King James vertaling. Dit is baie duidelik in die Engelse vertaling)
Spreuke 11:31 maak dit duidelik dat die regverdige en die goddelose op dieselfde plek hulle belonings sal ontvang: “As die regverdige op aarde vergelding ontvang, hoeveel te meer die goddelose en die sondaar!”
Die Nuwe Aarde
Ons praat dikwels van die hemel asof ons vir ewig daar sal woon. Maar God het groter en beter planne vir ons! Hy beplan om ons te hervestig op die herskape aarde waar geen dood, ellende en sonde weer sal voorkom nie.
• Die hartseer en ellende van die verlede sal vergete wees. Want kyk, Ek skep nuwe hemele en ’n nuwe aarde, en aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie. (Jesaja 65:17)
• Ons gaan produktiewe lewens lei. “En hulle sal huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan eet: hulle sal nie bou dat ‘n ander dit bewoon nie; hulle sal nie plant dat ‘n ander dit eet nie; want die dae van my volk sal wees soos die dae van die bome, en my uitverkorenes sal die werk van hulle hande geniet.” (Jesaja 65:21-22)
• Ons sal beslis nie verveeld wees of heeldag met harpies rondloop en sing nie! Dink net watter wonderlike studie ons sal kan maak van die wetenskap, sterrekunde, ens. , noudat ons verstand ten volle gebruik kan word.
• Elke Sabbat en tydens spesiale feeste sal ons na Jerusalem gaan om te aanbid. “En elke maand op die nuwemaan en elke week op die Sabbat sal alle vlees kom om te aanbid voor my aangesig, sê die HERE.” (Jesaja 66:23 )
• Mens en dier sal saam in vrede woon. “Die wolf en die lam sal saam wei, en die leeu sal strooi eet soos ’n bees, en stof sal die voedsel van die slang wees; hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie, sê die HERE.” (Jesaja 65:25) Die sondeloosheid wat aanvanklik in Eden geheers het, sal weer herstel word.
• God self sal by ons woon! “En ek het ’n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God.” (Openbaring 21:3)
• Ons sal die vorreg hê om vir altyd sam met God te regeer oor die heelal. “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou en hy saam met My. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op My troon, soos Ek ook oorwin het en saam met My Vader op Sy troon gaan sit het. Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.” (Openbaring 3:20 – 22).
“Want Ek het geen behae in die dood van hom wat sterwe nie, spreek die Here HERE. Bekeer julle dan en lewe.” (Esegiel 18:32)