top of page
dood.jpg

Doop Voorbereiding Studie 12: Die Toestand van die Dode - Problematiese Tekse en Vrae

1. Daar is verskeie tekse waar dit klink asof die liggaam en die siel en gees aparte entiteite is. Hoe verklaar ‘n mens dit?
-    “En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en julle gees [pneuma] en siel [psuchē] en liggaam [sōma] geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus.”  (1 Thessalonicense 5:23)

-    “Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van die gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.” (Hebreërs 4:12)

-    “Want wie van die mense weet wat in ‘n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is behalwe die Gees van God nie.” (1 Korinthiers 2:11)
 
Ons moet eers kyk na die betekenis van hierdie woorde in die Grieks. Omdat elke woord ‘n paar moontlike betekenisse kan hê, moet die konteks on altyd lei in die teopassing daarvan.
Pneuma: lug; asem; ‘n bries; die rasionele of denkende mens; die mens se verstandelike toestand; denke; Heilige Gees; ‘n engel of demoon.
Psuchē: psige van die mens (instinkte, begeertes, emosies); asem; hart; lewe; denke.
Sōma: liggaam (as geheel)

1 Thessalonicense 5:23: Paulus bied nie hier ‘n verduideliking aan vir die natuur van die mens nie, maar spreek eerder ‘n wens uit dat geen deel van die mens se lewe onaangeraak sal wees deur God se heiligmakende krag nie. Die gebruik van die woorde gees [pneuma], siel [psuchē], en liggaam [sōma] dui daarop dat die mens in sy geheel deur God aangeraak moet word. Die intelligensie of rasionele denke van die mens (pneuma), sy psige, of emosies, instinkte en begeertes (psuchē), sowel as letterlike liggaam (sōma) met sy vleeslikheid moet onder beheer van die heiligmakende krag van God geplaas word.

Hebreërs 4:12: Hier word God se Woord as ‘n skerp swaard uitgebeeld wat deur die mense se hele wese – sy psige (emosies, begeertes, instinkte) sowel as sy denke of verstand sny om te bepaal wat sy motiewe en intensies is. Weereens word die mens in sy geheel uitgebeeld om te wys hoe fyn die Woord kan sny – tot deur die fynste deel van murg en gewrigte.

1 Korinthiers 2:11: Die derde Persoon van die Drie-Eenheid is die een deur wie alle begrip van Waarheid aan die mens gegee word. Hy help die mens om die dieptes van God te begryp en herinner die mens aan die dinge van God. Maar ‘n mens se private gedagtes, begeertes en planne en motiewe kan alleenlik deur die mens self verstaan word. Ander lewende wesens kan nie die hart van ‘n mens verstaan tensy dit aan hulle blootgestel word nie.

2.  In die vergelyking van die ryk man en Laserus, gaan die ryk man dadelik hel toe, terwyl Laserus hemel toe gaan. Hoe pas hierdie vergelyking in by die leerstelling dat die dode slaap tot en met die wederkoms? Lees Lukas 16:19-31
-    Vergelykings is net dit – ‘n verhaal om ‘n morele les te illustreer. Vergelykings kan nie gebruik word om leerstellige punte te bewys nie. Dus kan ons nie hierdie skrifgedeelte gebruik om enige inligting te verkry oor die toestand van die dode nie.
-    Wat is die lesse wat Jesus met hierdie skrifgedeelte vir die Jode wou leer?
i. Die Jode het geglo dat rykdom ‘n teken van God se guns was.
ii. Hulle het ‘n vertelling gehad wat verlossing beskryf het as dat die dooie na Abraham se boesem kon vlug vir veiligheid, terwyl die wat verlore gaan direk na die vernietiging gaan.
iii. Om die vergelyking letterlik op te neem sou geweldige teologiese probleme skep. Die hemel sou ‘n vreeslike plek wees indien die verlostes die konstante lyding van vriende en familie moes gadeslaan. Mense sou letterlik tussen die hemel en die hel met mekaar kon kommunikeer. En Abraham se boesem sou darem baie groot moes wees om almal te huisves wat soontoe vlug.
iv. Jesus het die uitkomste van hulle verwagtinge heeltemal onderstebo gekeer.
•    Rykdom verkry deur geldgierigheid en oneerlike gewin of deur die onderdrukking van die armes is nie ‘n teken van God se guns nie.
•    Daar is geen tweede kans na die dood nie. Die besluite geneem tydens ons lewe bepaal ons ewige bestemming.
•    Jesus het uitgewys dat as die Fariseërs die Sy duidelike leer aangaande verlossing verwerp het, hulle selfs ‘n bonatuurlike wonder soos dat iemand uit die dode verrys, sou verwerp. Hulle het altyd gevra vir tekens. Hy het dit ook later gedoen deur die werklike Laserus uit die dood op te wek. Daardeur het Hy Sy Goddelikheid aan hulle bewys. Hulle het nogtans nie geglo nie.

3. Wat bedoel Openbaring 6:9-11 wanneer dit verwys na die siele van die martelare onder die altaar wat uitroep na die Here?
Personifikasie word dikwels in die Bybel gebruik om situasies in simboliese taal te beskryf. Na Kain vir Abel vermoor het, het die Here vir hom gesê: “Die stem van die bloed van jou broer roep na My van die aarde af.” (Genesis 4:10) Het Abel se bloed regtig geroep na die Here? Hebreërs 12:24 neem dit ‘n bietjie verder wat sê Jesus se bloed spreek van “beter dinge as Abel.” Openbaring 6:9 kan dus letterlik lees: Die lewens van diegene wat terwille van Jesus gemartel is se sterwe getuig in die oordeel en roep simbolies uit vir ‘n regverdige oordeel soos Abel se bloed uitgeroep het na God.

4. Wat bedoel Petrus wanneer hy praat van Christus wat gepreek het vir “die geeste in die gevangenis” (1 Petrus 3:19)?
Dit is noodsaaklik om die hele gedeelte vanaf vers 18-22 te lees om die konteks te verstaan. Wie is die geeste in die gevangenis? Vers 20 vertel ons. In die dae van Noag was die harte van manne en vroue gevange gehou deur boosheid. Dieselfde Heilige Gees wat Jesus uit die letterlike dood opgewek het, het manne en vroue deur Sy werking probeer bereik om hulle uit die gevangenis van sonde vry te laat. In Jesaja 61:1 word Jesus se sending om mense uit die gevangenis van sonde te red, uitgebeeld. Die Griekse woord vir “geeste” is hier weereens pneuma.

5. Het Jesus vir die dief aan die kruis belowe dat hy dieselfde dag nog saam met hom in die hemel sou wees?
Nee. Jesus was self nie in die hemel op die Vrydag toe Hy gekruisig is nie. Hy was nog in die graf tot die Sondag. Ons moet ook onthou wat die Bybel leer oor wat met die dooies gebeur: Hulle slaap in die graf tot en met die wederkoms. Dus maak dit nie sin dat Jesus vir die dief aan die kruis die versekering sou gee dat hy daardie selfde dag nog saam met Hom in die hemel sou wees nie. Wat gaan dan aan? Hoe verklaar ons dit? Onthou dat die Bybel aanvanklik nie in hoofstukke en verse verdeel was nie en dat leestekens ook nie aanvanklik gebruik is nie. Toe die vertalers dus die Bybel vertaal het, het hulle besluit waar die komma moet kom in die sin na aanleiding van hulle eie oortuigings. As ons die komme nou skuif, sal die vers lees dat Jesus vir die dief VANDAG die versekering gee dat hy eendag – met die opstanding, saam met Hom in die paradys sal wees.

Gaan na die volgende studie:

bottom of page