Doop Voorbereiding Studie 13: DIE KONING KOM: IS JY GEREED?
A. Die Belofte
• Jesus het reeds tweeduisend jaar gelede belowe dat Hy gou kom: “Kyk, ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie.” (Openbaring 3:11)
• Alle Christene dwarsoor die wêreld glo dat Jesus weer gaan kom. Sommige verskil oor hoe en wanneer, maar almal is dit eens: DIE KONING KOM! Hy kom om Sy kinders te haal, sodat hulle vir ewig by Hom kan wees: “... Ek gaan om vir julle ‘n plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, KOM EK WEER EN SAL JULLE NA MY TOE NEEM, SODAT JULLE OOK KAN WEES WAAR EK IS.” (Johannes 14:2-3)
B. Die Wêreld is ons Woning nie.
Die wêreld is ons woning nie.
Dit merk ek aan die son wat wyk.
en ‘k merk dit aan die reier wat mistroostig na die son sit kyk
op een been, in die biesievlei.
En is die laaste strale weg,
dan rys ‘n koue op uit die vlei.
‘n Koue grildeurhuiwer my;
en ‘k sien dit dan in alle ding
wat in die skemer my omring:
Die wêreld is ons woning nie.
(Uit Passieblomme, van Totius)
Wie wil vir ewig op hierdie aarde woon? Wie wil vir ewig woon op ‘n planeet waar dood, geweld, pyn, rampe, armoede en swaarkry heers? Wie wil in ‘n plakkerskamp woon as die Koning van die heelal vir jou ‘n paleis van ‘n huis beloof het in die hemel? Seker nie een van ons nie. Maar die saak staan vandag so: Ons leef in afwagting op die koms van die Here, maar terwyl ons wag, raak ons aan die slaap. En terwyl ons so lekker vas aan die slaap is, steel Satan ons Kroon van die Lewe.
C. Die Waarskuwing
• Toe Sy dissipels Hom vra om vir hulle tekens te gee, sodat hulle kan weet dat Sy koms naby is, was Sy eerste woorde, woorde van waarskuwing: “Pas op dat niemand julle mislei nie.” (Matthéüs 24:4)
• Die Bybel waarsku ons dat daar aan die einde van tyd geweldige misleiding sal wees op godsdienstige vlak: “Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, OOK DIE UITVERKORENES TE MISLEI.” (Matthéüs 24:24) God se kinders is dus nie noodwendig immuun teen misleiding nie.
• Die Bybel praat ook daarvan dat “....in die laaste dae sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang.” (1 Timotheus 4:1).
• Hoekom word mense so maklik mislei?
“MY volk gaan ten gronde weens gebrek aan kennis...” (Hosea 4:6)
“... en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos.” (Johannes 3:19)
• As ek nie ‘n grondige kennis van God se woord het nie, hoe sal ek weet wat is die waarheid en wat is die leuen? Hoe sal ek kan onderskei tussen reg en verkeerd? God het Sy Woord juis aan ons gegee, sodat ons kan weet wat Sy wil vir ons is en sodat ons kan onderskei tussen goed en kwaad: “Die hele skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing in die geregtigheid...” (2 Timotheus 3:16) Wanneer ons weet wat die waarheid is, kan ons makliker ‘n intelligente keuse maak tussen waarheid en leuen. “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.” (Johannes 8:32)
D. Die tekens van Sy naderende Koms
1. Oorloë, die hele wêreld vol: “En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë.... want die een nasie sal voor die ander een opstaan en die een koninkryk teen die ander.” (Matthéüs 24:6-7). Daar is byna geen land ter wêreld wat nie op die een of ander wyse met oorlogvoering betrek word nie. Groot beheerliggame soos die Verenigde Nasies is gestig om wêreldvrede te probeer handhaaf, maar nêrens op aarde heers daar vrede nie. “Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid - dan oorval ‘n skielike verderf hulle soos die barensnood van ‘n swanger vrou, en hulle sal dit sekerlik nie ontvlug nie.” (1 Thesalonicense 5:3)
2. Hongersnood en siektes sal volop voorkom: “...en daar sal hongersnode wees...” (Matthéüs 24:7). Op ons land se drumpel sterf derduisende mense jaarliks van die honger: In Lesotho, Zimbabwe, Noord Afrika, het droogte, oorlog en oorbevolking die land gestroop van sy groenigheid en mense sterf soos vliëe van die honger. Allerlei pessiektes sal die mensdom tref: “Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees EN PESSIEKTES...” (Matthéüs 24:7). VIGS is die dodelikste siekte wat die mensdom ooit getref het. Derduisende het reeds daarvan gesterf. Hele gemeenskappe word uitgewis as gevolg daarvan. Tering (TB) is weer aan die toeneem in die wêreld. Siektes soos Malaria raak buite beheer. Dink maar aan die Ebola epidemie wat Afrika onlangs getref het.
3. Aardbewings sal toeneem: “...en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke...” (Matthéüs 24:7). Daar kom vandag soveel meer aardbewings wêreldwyd voor as ʼn honderd jaar gelede. Aardbewings kom deesdae so algemeen voor dat ons skaars aandag gee as ons weereens ‘n berig hoor van aardbewings wat iewers gebeur het.
4. Ook die natuur sal vir die mensdom ‘n waarskuwing uitbasuin dat tyd amper verstreke is: “En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun, en menseharte sal beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word. EN DAN SAL DIE SEUN VAN DIE MENS KOM IN ‘N WOLK, MET GROOT KRAG EN HEERLIKHEID.” (Lukas 21:25-27) Hoeveel natuurrampe was daar net nie in die laaste tyd nie! Oorstromings, droogte, aardbewings, siklone, tifone, orkane, tsunamis kom daagliks iewers op aarde voor. Dit word al hoe warmer en die reën al minder. Die mensdom is, soos nog nooit tevore nie, besorgd oor die voortbestaan van lewe op hierdie kwynende planeet. Depressie is die mees algemene siekte van ons tyd, omdat die toestand van die wêreld mense so vasvang, dat hulle geen lig voorentoe meer sien nie.
5. Mense sal nie meer die vrugte van die Gees dra nie, maar karakters openbaar wat spreek van selfsug en van Satan se invloed: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het.” (2 Timotheus 3:1-5)
Hierdie woorde skilder nie juis ‘n mooi prentjie van die mensdom nie! Maar klink dit nie bekend nie:
- Wreed: ‘n gesin word uitgewis wanneer misdadigers hulle koppe oopkloof met byle;
- Geldgierig: mense is deesdae bereid om enige ding te doen om geld te maak – self hulle liggame en siele te verkoop;
- Lasteraars: luister net na die lelike taal wat op straat en op die TV gebruik word.
- Sonder natuurlike liefde: Verhoudings en selfs huwelike met dieselfde geslag word nie meer as buitengewoon beskou nie, al bestempel die Bybel dit as ‘n gruwel in die oë van God.
- Die verval van die moderne mens is onbetwisbaar. Jesaja 43:7 vertel ons dat God die mens geskape het om Hom te vereer. Vereer die mensdom nog sy Skepper? Sal so ‘n vervalle ras aanvaarbaar wees vir sy Skepper? Dikwels bely ons die Here met ons lippe, maar ons dade weerspreek die feit dat ons Koningskinders is.
E. Kan ons die presiese tyd van Sy koms voorspel?
• Ons weet nou reeds dat Sy koms naby is, want die Bybel spel hierdie tekens baie duidelik uit en ons sien elke dag die vervulling daarvan. ‘n Paar jaar gelede het ‘n ‘profeet’ volbladsy-advertensies uitgeneem om die koms van Jesus op ‘n spesifieke dag te verkondig. Die dag het gekom en gegaan en Jesus het nie gekom nie. Christene deur die laaste eeue heen wag met verlange en smeking op die Koms van hulle Verlosser, baie van hulle het bestemde datums bepaal waarop dit sou gebeur, maar kan ons weet presies wanneer dit gaan gebeur?
• Die Bybel is baie duidelik op hierdie gebied: “Maar die dag en die uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen.” (Matthéüs 24:36)
“Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag....” (2 Petrus 3:10)
“Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie.” (Matthéüs 24:42)
• Juis daarom moet ons seker maak dat ons voorbereid is op Jesus se onverwagte koms. Hy stel reeds vir baie jare Sy koms uit omdat Hy vir ons wag om tot bekering te kom. Wat ‘n genadige Here dien ons nie. Kyk wat sê 2 Petrus 3:9 “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en WIL NIE HÊ DAT SOMMIGE VERLORE MOET VERGAAN NIE, MAAR DAT ALMAL TOT BEKERING MOET KOM.”
F. Hoe gaan Jesus kom?
Daar is baie gelowiges wat glo dat Jesus stil-stil Sy kinders gaan wegraap en die goddelose op die aarde gaan agterlaat om eers tot bekering te kom. Ander glo weer dat die koms van Jesus ‘n geestelike ervaring is en dat Hy net in my en jou hart kom, sodat ons van die aarde ‘n hemelse plek kan maak.
Wat leer die Bybel ons: daardie lig vir ons pad en lamp vir ons voet?
• Jesus se koms gaan ‘n openbare, sigbare gebeurtenis wees: “Kyk, Hy kom met die woke en ELKE OOG SAL HOM SIEN” (Openbaring 1:7)
“Want soos die weerlig uit die ooste uitslaan en tot in die weste skyn, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.” (Matthéüs 24:27)
• Jesus se koms gaan ‘n lawaaierige gebeurtenis wees: “En dan sal julle die Seun van die mens sien kom op die wolke MET GROOT KRAG EN HEERLIKHEID.” (Lukas 21:27)
“En Hy sal Sy engele uitstuur met HARDE TROMPETGELUID en hulle sal Sy uitverkorenes versamel uit al die vier windstreke.” (Matthéüs 24:31)
“Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God...” (1 Thessalonicense 4:16)
• Die verskyning van Christus in die wolke sal voorafgegaan word deur vreeslike plae: Ons sal meer hieroor gesels in ons volgende studie.
• Die verskyning van Christus in die wolke sal gepaardgaan met ‘n geweldige aardbewing en hael. “en die hemel het weggewyk soos ‘n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit.” (Openbaring 6:14)
“En die sewende engel het sy skaal uitgegooi in die lug, en ‘n groot stem het uit die tempel van die hemel gekom, van die troon af, wat gesê het: Dit is verby! En daar het stemme gekom en donderslae en bliksemstrale, en daar het ‘n groot aardbewing gekom soos daar nog nie gewees het nie vandat die mense op die aarde was nie – so ‘n geweldige groot aardbewing. En alle eilande het gevlug, en berge is daar nie gevind nie; en groot hael, omtrent ‘n talent swaar, het uit die hemel op die mense geval....” (Openbaring 16:17-18,20-21)
Dit klink verseker nie asof die koms van Jesus stil-stil gaan geskied nie!
• Al die engele kom saam! Wat ‘n gesig gaan dit nie wees nie! Duisende en tienduisende engele wat saam met Koning Jesus neerdaal uit die hemel in alle prag en heerlikheid! “En Henog, die sewende van Adam af, het ook teen hulle geprofeteer en gesê: Kyk, die Here het gekom met Sy heilige tienduisendtalle, om gerig te hou oor almal en al die goddelose mense onder hulle te straf oor al hulle goddelose werke wat hulle goddelooslik gedoen het...” (Judas 14,15)
“En wanneer die Seun van die mens in Sy heerlikheid kom EN AL DIE HEILIGE ENGELE SAAM MET HOM, dan sal Hy op Sy heerlike troon sit.” (Matthéüs 25:31)
• Wanneer Jesus kom, sal Hy self nie ‘n voet neersit op die aarde nie. Ons het reeds gelees dat Matt. 24:31 sê “En Hy sal Sy ENGELE UITSTUUR met harde trompetgeluid en HULLE sal Sy uitverkorenes versamel...” Ons sal Jesus tegemoetgaan IN DIE LUG - (1 Thessalonicense 4:17)
• Jesus se koms sal die grafte van Sy kinders laat oopgaan en die dooies sal opgewek word. Kom ons lees baie versigtig wat 1 Thesalonicense 4:13,16-17 vertel gaan gebeur: “Maar broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en DIE WAT IN CHRISTUS GESTERF HET SAL EERSTE OPSTAAN. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.” Wat ‘n heerlike weersiens! Om al ons geliefdes wat ons aan die dood afgestaan het te omhels terwyl ons opvaar in die lug na waar Jesus op die wolke vir ons wag.
• Die goddelose sal angsbevange wees wanneer Jesus op die wolke verskyn: Vir die kinders van God deur die eeue heen, sal die verskyning van Christus op die wolke, ‘n vreugdevolle dag wees en hulle sal sê: “Kyk, dit is onse God op wie ons gewag het, dat Hy ons kan verlos; dit is die Here op wie ons gewag het: laat ons juig en bly wees oor Sy hulp.” (Jesaja 25:9) Ongelukkig sal daar ook ‘n ander groep wees: die wat sal smeek dat die berge en rotse op hulle moet val sodat hulle nie die heerlikheid van Christus kan aanskou nie. Lees Jesaja 2:19-21, Hosea 10:8, Lukas 23:27-30, Openbaring 6:15-17. Mag ons almal deel van die eerste groep wees.
• Wanneer Jesus kom, is die besluit reeds gemaak wie gered sal word en wie nie.
“Kyk, Ek kom gou, EN MY LOON IS BY MY, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.” (Openbaring 22:12)
“En wanneer die Seun van die mens in Sy heerlikheid kom......dan sal Hy op sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasie versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei.” (Matthéüs 25:31-32)
“Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag, waarin die hemele met ‘n gedruis sal verbygaan, en die aarde en die werke wat daarop is sal verbrand. Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word.” 2 Petrus 3:10,14