top of page
Tabernakel_uitleg.jpg

Doop Voorbereiding Studie 22: Die Heiligdom

‘n Uitbeelding van God se Verlossingsplan deur Jesus Christus

1. Die Belofte van Verlossing
•    Nadat Adam en Eva gesondig het in die tuin van Eden, het God se verlossingsplan, wat reeds voor die skepping in die hemel geformuleer is (Efesiërs 1:4-7), dadelik in werking getree.
•    Hy het aan hulle die belofte gegee van ‘n Verlosser wat gebore sou word uit die mens. Hy sou die slang (Satan) oorwin. Sien Genesis 3:15.
•     Adam en Eva se onskuld is weggeneem as gevolg van hulle sonde en hulle het besef dat hulle naak was. Hulle wou self hulle naaktheid bedek deur klere van vyeblare te maak, maar God wou vir hulle wys dat net die geregtigheid van Christus, en nie hulle eie werke nie, hulle sondigheid kan bedek. As simbool van hierdie belofte, het Hy hulle naaktheid bedek met die vel van ‘n dier – ‘n dier wat geslag is as gevolg van hulle sonde. Sien Genesis 3:6, 7, 21. Hierdie dier was ‘n simbool van Jesus, die “Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.” (Johannes 1:29)
•    Sagaria 3:1-7 beeld baie mooi uit hoe Jesus se geregtigheid ons sondes bedek.

2. God met ons – ‘n Woning vir God tussen Sondaars
•    Soos enige liefdevolle ouer, wou God graag naby Sy kinders wees. Maar weens Sy heiligheid, kan God nie in die teenwoordigheid van sonde woon nie. Hy het egter deur die eeue heen alternatiewe planne in werking gestel om naby aan ons te wees. Die koms van Sy Eniggebore Seun, Jesus Christus, was die kroon van daardie plan. Daarom het die Engel aan Josef verskyn en gesê: “Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar, en hulle sal Hom Emmanuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons.” (Matthéüs 1:23).

•    Hy wou deur die kinders van Israel getuig van Sy verlossingskrag en Sy liefde vir gevalle mense. Vir hierdie rede wou die Here graag tussen Sy kinders woon en het hy vir Moses opdrag gegee om vir Hom ‘n heiligdom te bou in die kamp. (Eksodus 25:8)

•    Hierdie eerste heiligdom moes getuig van Sy genade soos in die verlossingsplan ge-implimenteer. Hierdie was ‘n tipologies uitgebeelding van die Verlossingsplan in offerstelsels en rituele. (Hebreërs 9:1-12)  

•    Volgens die Bybel is daar ‘n aardse sowel as ‘n Hemelse Heiligdom (Hebreërs 8:1, 5,) en is die aardse een volgens die plan van die Hemelse Heiligdom gebou. (Eksodus 25:9,40)

•    Die aardse heiligdom is dus behulpsaam in ons studie van die Verlossingsplan en die werk wat Jesus vir ons doen in die Hemel as ons Middelaar / Advokaat / Voorspraak. Sien 1 Johannes 2: 1, 2.

3. Die Verlossings-Simboliek van die Aardse Heiligdom
•    Lees in Eksodus 25-30 van hoe God tot die fynste besonderhede aan Moses voorgeskryf het hoe die heiligdom gebou moes word. Spesiale vakmanne is uitgesonder om die werk te doen. Die materiale moes net die beste wees en is self uitgewys deur God. Selfs die afmetings en plasing van elke meubelstuk is deur God bepaal. Ons leer hieruit dat God altyd TOTALE OORGAWE EN GEHOORSAAMHEID van Sy kinders vereis.  

•    Die tabernakel was klein en verskuifbaar, maar volmaak in elke opsig – nes die volmaakte verlossing wat ons voorreg is deur Jesus Christus. Die reis deur die heiligdom versinnebeeld die sondaar se reis terug na God deur die werk en bemiddeling van Jesus. Ons raak slegs ‘n paar punte aan in hierdie Bybelstudie, maar daar is nog veel meer te studeer oor hierdie ryk onderwerp.

•    Die Voorhof
-    Om die Voorhof, die buitenste deel van die Heiligdom, was ‘n “muur” van fyn dubbeldraad wit linne gespan oor koper en silwer voetstukke. (Eksodus 27:9-15) Die Volk het nie vryelik deur die voorhof van die Heiligdom beweeg nie, omdat ‘n “muur” hulle geskei het hiervan. Hulle is daagliks herinner dat hulle “ongeregtigheid ‘n skeidsmuur geword [het] tussen julle en julle God”. (Jesaja 59:2) Hierdie wit mure was ook ‘n simbool van Christus se reinheid en geregtigheid wat ons sondes bedek. Sonder hierdie bedekking sal ons nie die hemel kan binnegaan nie. Die gelykenis van die bruilof wat Jesus vertel het, het hierdie feit geillustreer. (Matthéüs 22:1-13)

-    Die deur: Soos ons die voorhof binnekom, sien ons dat daar slegs een ingang na die heiligdom is. Vir elke sondaar is daar slegs één manier om tot die Vader te gaan, en dit is deur Jesus Christus. “Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word…” (Johannes 10:9) In Jesus alleen vind ons redding. “En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.” (Handelinge 4:12)

Dit is ook interessant om daarop te let dat die ingang na die voorhof aan die oostekant van die heiligdom was. Wanneer ons dit dus betree, is ons rug gekeer op die opkomende son. Die Here het dit doelbewus so beplan omdat vele mense reeds teen daardie tyd die songod aanbid het. Dit was ‘n gruwel vir die Here, wat duidelik sê dat Hy die enigste ware God is.

-    Koper waskom: Al die houers in die heiligdom was van koper gemaak. Die koper waskom is gemaak van al die koper spieëltjies wat die vroue gebruik het wanneer hulle wou mooi lyk. God wou seker maak dat ons weet dat Hy nie ‘n aannemer van person is nie (Handelinge 10:34, 35) en dat die uiterlike skoonheid nie vir Hom so belangrik is, as ‘n skoon hart en mooi karakter nie. (1 Petrus 3:3,4)

Die voorhof is beskou as ‘n plek van reiniging. Dit was die plek waar die priesters hulle in die koper waskom moes reinig voordat hulle die Heiligste of die Allerheiligste vertrekke in die Heiligdom kon betree. Hierdie reiniging was simbolies van ons geestelike voorbereiding wanneer ons die Here nader om ons skoon te was van sonde en ongeregtigheid. Die koper waskom het dus ook die “bad van die wedergeboorte”, of die doop voorgestel. (Titus 3:4, 5)

-    Die Brandoffer altaar: (Eksodus 27:1-8) Die hoof van elke huisgesin het gereeld  ‘n offer gebring om verbrand te word op die altar as teken van hulle berou vir die sondes wat hulle gedoen het. Paulus pleit in Romeine 12:1 by ons om onsself ook as volmaakte offer voor God neer te lê - dat ons die “ek” in geheel moet offer en totaal aan Hom moet behoort.

Die altaar is van akasia hout gemaak en is oorgetrek met koper. Op elke hoek is ‘n “horing” aangebring ter herinnering dat Christus, die “horing van my heil” is. (Psalm 18:2). Die horing is ‘n simbool van krag en sterkte (Sien Deuternomiom 33:17) – en God se mag om ons redding deur Christus te bewerkstellig.

In Ou Testamentiese tye kon persone wat vervolg is vir hulle wandade, na die heiligdom hardloop, aan die horings vasklou en so verseker wees van ‘n kans op ‘n regverdige verhoor. Daarom sê Dawid: “Die Here is my rots en my bergvesting en my redder; my God, my rots by wie ek skuil; my skild en die horing van my heil, my rotsvesting.” (Psalm 18:2)

-    Die Offer: Die gevolge van sonde kan nie deur ‘n heilige, sondelose God geignoreer word nie. “Die loon van die sonde is die dood.” (Romeine 6:23) Die Volk moes daagliks diere offer vir hulle sondes. Net so moet ons ook daagliks ons sondes bely. Alle offers moes volmaakte lammers (of soms ander diere, soos ‘n duif wees, afhangende van die aard van die oortreding en die voorskrifte van boetedoening) wees, wat gedui het op Christus, die sondelose, volmaakte Lam wat terwille van ons sondes sou sterf. (Eksodus 12:5; Eksodus 29:38-46; 1 Petrus 1:18-20) Die sondaar het sy hande op die lammetjie se kop geplaas en simbolies sy sonde geplaas op die lam, net soos Hy ons sondes op Hom geneem het. (Jesaja 53:5) Die priester het van die bloed gesprinkel op die altaar en die res op die grond uitgestort net soos Jesus se bloed gestort is aan die kruis. Sonde is simbolies verplaas van die sondaar na die heiligdom. Een maal per jaar, tydens die Versoendag, is die heiligdom simbolies gereinig en is alle tekens van die sondes van die Volk permanent verwyder. “Kom nou, laat ons die saak uitmaak, sê die Here: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.” (Jesaja 1:18)

•    Die Twee Kamers van die Heiligdom: Buiten die voorhof, was daar ook nog twee kamers in die heiligdom, wat ook die tabernakel genoem word: Die Heiligste en die Allerheiligste. Die mure was van akasie hout en is oorgetrek met suiwer goud. Wanneer die priesters die vertrekke binnegegaan het, kon hulle hul weerkaatsing sien in die mure en is hulle daaraan herinner dat God alles sien. Niks is vir Hom verborge nie. (Psalm 139:1-5)

Die tabernakel het bestaan uit ‘n tent wat bedek is met waterdigte velle. Daaronder was ‘n dekkleed van rooigeverfde ramsvelle. (Eksodus 36:19). Elke keer as die priesters opgekyk het, moes hulle daaraan dink dat hulle bedek is met die bloed van die Lam. So ook moet Christene vandag leef met die wete dat ons losgekoop is uit sonde deur Jesus se bloed.

•    Die Heiligste: In die voorhof en eerste kamer (die Heiligste) het die priesters daaglikse dienste waargeneem. Offerhandes is op die altaar geplaas namens die sondige volk en ‘n vooruitskouing van die dood van Jesus is hier gevier, net soos ons met ‘n terugblik vandag die nagmaal vier. Elke seremonie en meubelstuk was ryk in simboliek en het gedui op fasette van die verlossingsplan en God se goedheid. In die Heiligste was daar die tafel van toonbrode, die koperkandelare en die reukoffer altaar. Hierdie drie meubelstukke wys op die belangrikheid van die Woord van God, gebed en persoonlike getuienisse in die proses van heiligmaking.

-    Die goue kandelaar (Eksodus 25:31-40): Die kandelaar is gemaak uit suiwer goud en is getooi met amandelbloeisels van goud. Sewe lampe is daarop gemonteer en is gevoed met suiwer olyfolie. Die priesters moes toesien dat die lig nooit uitgaan nie.
Jesus sê: “Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.” (Johannes 8:12)

Ons word ook daaraan herinner dat ons ook ‘n lig moet wees: “Julle is die lig van die wêreld…. Laat julle lig so skyn voor die mense dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.” (Matthéüs 5:14, 16)

Die kandelare versinnebeeld ook die Woord van God wat ‘n lamp vir ons voete en ‘n lig op ons lewenspad is. (Psalm 119:105)
Christus het ons geroep uit die duisternis na die lig. So ook moet ons andere roep om saam met ons in die lig te wandel.

-    Die tafel van toonbrode met 12 ongesuurde brode (Eksodus 25:23-30; Levitikus 24:5-9): Die tafel van toonbrode simboliseer die feit dat God altyd vir al Sy kinders se geestelike en fisiese voeding sorg. Die 12 brode verteenwoordig God se kerk in Ou-sowel as Nuwe Testamentiese tye- die 12 stamme van Israel en die 12 apostels.

Dit herinner ons verder daaraan dat Jesus, die Lam, ook die Brood van die Lewe is. (Johannes 6:35) En dat “die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die Here uitgaan.” (Deuternomium 8:3)

-    Die reukoffer altaar (Eksodus 30:1-3): Hierdie altar het direk voor die gordyn wat die Heiligste van die Allerheiligste skei, gestaan. Dit was veel kleiner as die brandoffer altaar. Gloeiende kole van die brandoffer altaar is in ‘n houer onder die reukoffer altaar geplaas. ‘n Baie spesiale mengsel wierook is hier dwarsdeur die dag en nag gebrand om ons te verseker dat ons gebede en pleidooie aangenaam en aanvaarbaar voor die Here is en dat die Heilige Gees selfs die eenvoudigste gebed in die allermooiste taal moontlik aan God oordra. (Romeine 8:26). Die hoë priester het daagliks hier ingetree vir die sondes van die Volk net soos Jesus nou in die hemelse heiligdom intree voor God vir ons. (Eksodus 30:8) Bloed is ook op die wierook altaar gesmeer as ‘n gebed om versoening en vergifnis.  “Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree.” (Hebreërs 7:25)

•    Die Allerheiligste: Hierdie vertrek was veel kleiner as die Heiligste en het net een meubelstuk bevat.
Slegs die hoë priester kon eenmaal ‘n jaar hierdie vertrek binnegaan op die Versoendag. Hy het eers self ‘n offer op die brandoffer altaar gemaak om sy persoonlike sondes te bely en homself gereinig voordat hy die teenwoordigheid van God betree het. Aan die soom van sy gewaad het klein ornamentele granaatjies en klokkies gehang wat geklingel het terwyl hy beweeg het. (Eksodus 39:24-26) Indien die priester nie behoorlik versoening vir sy eie sondes gedoen het alvorens hy in God se teenwoordigheid gegaan het nie, sou hy dood neerslaan en die geklingel van die klokkies sou nie meer gehoor word nie. Ons sal nie eendag in God se teenwoordigheid kan leef as ons nie eers al ons sondes bely het en vergifnis daarvoor verkry het nie.

-     Die voorhangsel (Eksodus 26:31-37): Swaar pers, purperrooi en bloedrooi materiaal het die Heiligste van die Allerheiligste geskei. Engelfigure is ryklik daarop geborduur met ragfyn gouddraad. Die kleure het die koninklikheid van die Goddelike gesin voorgestel en die engelfigure was beduidend van hoe die engele in die hemel met belangstelling kyk hoe die mens reageer op die Verlossingsplan.

Jesus se liggaam is die voorhangsel. Ons kan alleen na God gaan deur Hom omdat Hy Sy liggaam vir ons geoffer het en Sy bloed vir ons gestort het. (Hebreërs 10:19, 20) Die Allerheiligste kon slegs bereik word deur die voorhangsel. Toe Jesus sy asem uitblaas met Sy kruisiging, het die voorhangsel geskeur van bo na onder. (Markus 15:38, Lukas 23:45, Matthéüs 27:51). Dit het gewys dat die sondaar nou die reg het om direk na God se genadetroon te gaan deur die bemiddeling van ons Hoë Preister, Jesus Christus. (Hebreërs 4:16) Sy dood het die einde van die Levitiese priesterskap teweeggebring.

-    Die Verbondsark (Eksodus 25:10-22): Die verbondsark is ook van akasia hout gemaak en oorgetrek met suiwer goud. Binne-in die ark het die 10 gebooie gelê wat deur God se eie vinger geskryf is op twee kliptafels. (Eksodus 31:18, Deuternomium 10:3-5) Later is Aaron se staf wat bloeisels op gegroei het voor die uittog uit Egipte, asook ‘n pot manna daarin bewaar. Langsaan die Verbondsark is die wetboek van Moses geplaas wat die seremoniële wette bevat het. (Deuternomium 31:9, 24-26) Hierdie wette was TYDELIK van aard en het betrekking gehad op die tipologiese stelsel wat net to die kruisiging geldig was. Daarom vertel Kolossense 2:14 – 17 vir ons dat hierdie “skuldbrief” aan die kruis genael is. Meer hieroor by ‘n latere studie.

Die deksel van die verbondsark is die versoendeksel genoem. (In Engels is dit die “Mercy Seat” genoem.) Genade en Wet het hier ontmoet. Alhoewel God se vereistes streng is, is dit Sy genade wat dit vir gevalle sondaars moontlik maak om tog na Hom te kom.

Bo-oor die verbondsark het die glorie van die Here gewoon tussen twee goue engele aan weerskante van die ark. Hierdie was ‘n simbool van God se teenwoordigheid by Sy Volk. Dit is ook hier waar God met die hoë priester gekommunikeer het om Sy Volk te lei en rig.

-    Die Versoendag: Op die laaste dag van die jaar, Versoendag, is die heiligdom simbolies gereinig van sonde. (‘n Simbool van die oordeel) Diegene wie se sondes nie in die loop van die jaar op die Heiligdom geplaas is nie, is ‘afgesny’ van die res van die Volk. (Levitikus 23:27-32) Die volk en die priester moes vooraf hulle harte ondersoek en met rituele reinigingsprosesse hulself  reinig om voor die Allerhoogste te verskyn.  

Twee bokke is benodig - een vir die Here en een vir Asasel (Satan) Sien Levitikus 16:8-10. Die bok vir die Here is geslag en sy bloed is ingedra na die Allerheiligste en gesprinkel op die versoendeksel - simbolies van die onskatbare prys wat Christus sou betaal vir die wêreld se sondes. 1 Petrus 1: 19;  Handelinge 8:32 en Openbaring 6:16 vertel hoe Christus se bloed ons reinig en Sy offer ons weer in versoening met God bring.  Hy het ons skuld betaal en die Volk van Israel is reeds vooraf geleer dat versoening deur die bloed van Jesus bewerkstellig moet word. Dit het gewys hoe gretig God was en steeds is om te versoen met die sondaar. (2 Korinthiërs 5:18, 19) Sodoende is reiniging en versoening simbolies tussen God en die Volk bewerkstellig. (Levitikus 16:16-20)

Die hoëpriester as Voorspraak, wat Christus gesimboliseer het, het dan die bloed op homself gesprinkel en sodoende die sonde tydelik op homself geneem net soos Christus ook die wêreld se sondes tydelik op Homself geneem het op Golgota. Die sonde is dan oorgeplaas op die sondebok - (Levitikus 16:8 - asasel se bok) wat die Satan aan die einde van tyd verteenwoordig, deurdat die Priester sy hande op die bok se kop geplaas het. Die bok is dan uit die kamp uitgelei en in die woestyn doodgemaak. So is die sonde dan simbolies uit die kamp verwyder en is die Heiligdom gereinig. (Levitikus 16:16-22 en 30-33) Wanneer die finale oordeel eendag voltrek sal word, sal al die skuld vir die sonde van die wêreld ook so op Satan geplaas word.

 

“Maar Christus, wat opgetree het as Hoëpriester van die toekomstige weldade, het deur die groter en volmaakter tabernakel wat nie met Hnde gemaak is nie,… ook nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met Sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en ‘n ewige verlossing teweeggebring.” Hebreërs 9:11, 12

Gaan na die volgende studie:

bottom of page