top of page

13. DIE MESSIAS WAARBORG DIE 2300 AANDE-EN-MÔRES PROFESIE

'N KORT OORSIG VAN DANIëL 8


Dan 8:13        
“Toe hoor ek ‘n heilige spreek; en ‘n ander heilige het aan die een wat spreek gesê: Hoe lank sal die gesig duur - van die voortdurende offer en die ontsettende goddeloosheid - sal die heiligdom sowel as die leër aan vertrapping oorgegee word?"

God het deur 'n visioen van 'n Skaapram, 'n Bokram en 'n Horing, Satan se bose plan blootgelê. Sy plan is om Christus se hemelse bediening van bemiddeling (soos deur die aardse heiligdom vooraf-geskadu) ten behoewe van die mens, te verdraai en te verwring.  

Satan het deur die "Gruwel van Verwoesting" (Antichris) die ware bemiddeling van die Evangelie verdoesel en vervang met sy eie plan van "verlossing," in werklikheid van misleiding en verderf.  

DIE ANTICHRIS SE PLAN VAN MISLEIDING EN VERDERF

1.    'n Valse Heiligdom -  die St Peters Kerk in Rome.

2.    'n Valse Priesterdom - priesters, biskoppe, kardinale en die pous as opperste
hoëpriester (Pontifex Maximus).

3.    'n Valse Plaasvervanger vir Christus - die Pous as hoof van die Kerk en die Wêreld.
 
4.    'n Valse Offer - die bloedlose Misoffer op die altaar.

5.    'n Valse Geregtigheid - werke, gebede, aflaatbriewe, pelgrimstogte na heilige plekke, heilige aandenkings, ens.

6.    Valse middelaars in die hemel - Moeder Maria en gestorwe heiliges.

7.    Valse metodes van Bybelvertolking - Preterisme (die Antichris hét al gekom) en Futurisme (die Antichris móét nog kom).

Dan 8:14        
“En hy het vir my gesê: Tweeduisend-driehonderd aande en môres, dan sal die heiligdom in sy regte staat herstel word.”

God sou nie toelaat dat die “Gruwel van Verwoesting” voortgaan met sy vernietigingswerk nie. Jesus se hemelse bemiddeling is lank genoeg vertrap.  God sal wel optree teen Satan en die magtige Horinkie. Die Heiligdom sou in sy regte staat herstel word na die profetiese tydperk van 2300 Aande-en-Môres, verstreke is.

Dan 8:27        
“En ek, Daniël, was gedaan en was dae lank siek; daarna het ek opgestaan en die werk van die koning gedoen; en ek was verstom oor die gesig, maar niemand het dit gemerk nie.”

Daniël was erg geskok, a.g.v. die verskriklike gebeure van die visioen wat aan hom geopenbaar was. Hy was dae lank siek. Weens die skokkende tonele van die visioen, is die begindatum vir die herstel (reiniging van die heiligdom en oordeel oor die magtige Horinkie), nie gegee nie.  
 
Dan 8:17,19,26    
“Toe kom hy by my staanplek; en toe hy kom, het ek geskrik en op my aangesig geval.  En hy het vir my gesê: Let op, mensekind, want die gesig sien op die tyd van die einde. ...Kyk, ek maak jou bekend, wat aan die einde van die strafgerig sal gebeur, want dit sien op die bepaalde tyd van die einde. ...En die gesig van die aande en die môres waarvan gespreek is, dit is waarheid; en jy, hou dit geheim, want dit sien op ‘n verre toekoms.”

Drie keer het die engel vir Daniël daarop gewys dat die visioen nie op sy tyd van toepassing is nie, maar dat dit sien op ‘n bepaalde tyd - die Tyd van die Einde. Die visioen wys op die verre toekoms, ons tyd. Die visioen is waarheid en aan Daniël word opdrag gegee om dit te verseël.

DANIëL ONDERSOEK DIE HEILIGE SKRIFTE
 
Dan 9:1-3    
“In die eerste jaar van Daríus, die seun van Ahasvéros, uit die geslag van die Meders, wat koning gemaak was oor die koninkryk van die Chaldeërs, in die eerste jaar van sy regering het ek, Daniël, in die boeke gemerk dat die getal jare waaroor die woord van die Here tot die profeet Jeremia gekom het met betrekking tot die puinhope van Jerusalem, sewentig volle jare was.  En ek het my aangesig tot die Here God gerig om met vas, en in roukleed en as, my aan gebed en smekinge te wy.”

Hierdie visioen, die 2300 Dae van Dan 8:14, het Daniël geweldig bekommer. Na sy herstel het hy die visioen probeer ontrafel, deur dit met ander dele van die Geskrifte (boeke van die Ou Testament) te vergelyk.  

Volgens die profesie van Jeremia, sou die Jode vir 70 Jaar in ballingskap bly (Jer 25:12) en daarna weer terugkeer na Jerusalem, met sy tempel wat in puin lê. Maar, ná die visioen van die 2300 Aande en Môres, was Daniël bekommerd dat die volk se ballingskap verleng sou word. Hy vas en bid ernstig dat God hom en sy volk sal vergewe weens hul ontrouheid en dat God, terwille van Sy Naam en Sy Tempel, Sy volk sal laat terugkeer na Jerusalem (Dan 9:4-19).

 

Gaan na die volgende studie:  DIE 70-WEKE (SEWETALLE) PROFESIE

bottom of page