top of page

No. 3 - DIE BRIEF AAN PERGAMUS
(Tydperk van Kompromie)


Betekenis:    
"Verheffing" of "veredeling," iets wat "uittroon."  

Agtergrond:    
Die stad was 64km noord van Smirna geleë en vol heidense tempels, van wie Zeus s'n die belangrikste was. 
 
Godsdiens:    
Pergamus was gewy aan die Slanggod, Aesculapius, die god van gesondmaking en was ook die "Groot Geneesheer" genoem. Die moderne Medisyne het hul embleem aan Aesculapius, die Slanggod, te danke. Satan word die "ou slang" genoem (Openb 12:3,9). Hier word na Pergamus verwys as die troon van Satan. Met die val van Babilon, is die antieke troon van Satan se valse godsdiens deur die vlugtende hoëpriester (Pontifex Maximus) en sy medepriesters in Pergamus hervestig.

Die daaropvolgende konings van Pergamus is die hoëpriesters van die ou Babiloniese geloof gemaak. Die Romeinse Keiser, Konstantyn, met sy hele weermag , is gedoop en sluit by die kerk aan. Met die bekering van die keiser tot die Christelike geloof in 313 nC., het die "Heidense" Romeinse Ryk verander na die "Heilige" Romeinse Ryk. Die kerk wat in die vorige era die vervolgde Kerk was, word nou "verhef" en "veredel" tot die Kerk van die staat en die staat word nou sy sterkste aanhanger.

Tydperk:    
313 nC. tot 538 nC. Pergamus verteenwoordig die tydperk van ‘n staatsondersteunde godsdiens waarin die Christelike geloof met die heidendom versmelt. Satan kon die kerk nie vernietig deur vervolging nie, daarom probeer hy dit bederf deur dit populêr te maak deur wêreldse gebruike en idees in te voer.

Openb 2:12,13    
“En skryf aan die engel van die gemeente in Pérgamus:  Dít sê Hy wat die skerp tweesnydende swaard het: Ek ken jou werke en die plek waar jy woon, waar die troon van die Satan is.  En jy hou vas aan my Naam en het die geloof in My nie verloën nie, selfs in die dae waarin Antipas my getroue getuie was, wat gedood is by julle waar die Satan woon.”
 
Midde die Satansnes, was daar nog getroue kinders van God. Hulle het hul geloof in Christus nie verloën nie, selfs nie eers na die martelaarsdood van Antipas nie. Dit word vertel dat hy in 'n reuse koperbul geplaas en verhit was, tot die koper gegloei het.

Openb 2:14,15    
“Maar Ek het enkele dinge teen jou: dat jy daar mense het wat vashou aan die leer van Bíleam wat Balak geleer het om 'n struikelblok voor die kinders van Israel te werp, naamlik om afgodsoffers te eet en te hoereer. So het jy ook mense wat vashou aan die leer van die Nikolaïete, wat Ek haat.”

Die valse profeet Bileam (Num 22-25) was gewillig om die waarheid vir rykdom te verkoop. Vir rykdom, aansien en eer het die kerk in 'n handelshuis verander. Valse leringe en gebruike om die Christelike geloof vir heidene aanneemliker te maak, het die kerk geleidelik binnegedring. Selfs die Nikolaïete se vleeslike lewenstyl het weer sy kop uitgesteek.

Openb 2:16    
“Bekeer jou; anders kom Ek gou na jou toe en sal teen hulle oorlog voer met die swaard van my mond.”

Jesus roep die kerk tot bekering. Christene mag nie kompromieë met die wêreld aangaan nie. Niemand kan twee meesters dien nie, dit is Christus óf Satan, Geregtigheid, óf die wêreld, nie albei nie.

Openb 2:17    
“Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.  Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die verborge manna, en Ek sal hom gee 'n wit keursteen, en op dié steen 'n nuwe naam geskrywe wat niemand ken nie, behalwe hy wat dit ontvang.”
 
Jesus is die Verborge Manna (Joh 6:47-51). Dit was die gebruik van regters om deur klippe hul beslissings aan te dui. Die wit steen het regverdiging en vryspraak beteken en die swart steen, skuld en veroordeling. Ons moet aan die Heilige Gees gehoor gee, sodat ons die vryheid en oorwinning oor sonde kan behaal.

 

Gaan na die volgende studie:  No 4 - DIE BRIEF AAN THIATIRE

bottom of page